Is daar ʼn toekoms vir aanlyn konserte?

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: William Iven/Unsplash)

Sowat 41 000 kykers het Saterdag wêreldwyd ingeskakel vir die Atterbury-teater en die Optog!-teaterinisiatief se eerste e-konsert wat regstreeks uit die Atterbury-teater in Pretoria uitgesaai is.

Kunstenaars soos Amanda Strydom, Jannie Moolman, Jak de Priester, Ricus Nel, Theuns Jordaan, Corlea Botha, Johrné van Huyssteen en Kevin Leo was deel van dié produksie.

E-konserte word tans dwarsoor die wêreld as ʼn veilige alternatief tot vermaak gebied. Dié konserte bied kykers die geleentheid om aanlyn in te skakel in die gerief en veiligheid van hul eie huis.

Onsekere publiek met oorweldigende belangstelling

Matthys Maree, musikant en organiseerder van die Optog!-teaterinisiatief vertel dié inisiatief lewer jaarliks sowat 150 vertonings in 50 dorpe reg oor Suid-Afrika, terwyl die Atterbury-teater sowat 350 vertonings per jaar aanbied.

Ná pres. Cyril Ramaphosa ʼn verbod op meer as 100 mense in ʼn openbare plek geplaas het in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bestuur, is die spreekwoordelike mat onder dié instansies se voete uitgeruk.

“Ons het geweet ons sal die teater se deure moet sluit, maar het ná ʼn Skype-vergadering en ʼn gesprek met tegnici saamgestem oor ʼn stromingsalternatief vir konserte in die Atterbury-teater,” sê Maree.

“Dit is geensins ʼn unieke konsep nie en baie mense het dit al gedoen. Op Facebook en ander aanlyn platforms lewer mense vertonings uit hul eie sitkamers. Maar ons as ʼn groot venue het besef ons sal dit anders moet aanpak, want sonder kunstenaars het ons niks en anders om.”

Hy sê dat dit wel ʼn nuwe ding is vir mense om aan gewoond te raak – om in die gemak van hul eie huise deur middel van die internet na ʼn konsert op hul rekenaars te kyk.

“Ons moet die vreemdheid rondom streaming ontmasker. Ons het verskriklik baie tegniese navrae gekry oor presies hoe dié ding werk, en ons het ʼn span gehad wat al dié vrae probeer beantwoord het.”

Sowat 41 000 mense uit 75 lande het aanvanklik vir die uitsending ingeskakel. ʼn Week later het meer as 100 000 mense uit 100 lande na dié vertoning gekyk.

Hy voeg by dat gemeenskappe en gesinne wat van mekaar verwyder is, verenig is deur dié konsert. “Mense het byvoorbeeld vir ons laat weet hulle is ʼn gesin wat saam kyk in verskillende lande en hulle gesels tussendeur met mekaar via WhatsApp. Dis asof dit die wêreld weer by mekaar trek,” sê Maree.

“As kunstenaars weet ons ons is nou sonder werk vir die afsienbare toekoms, maar ons reik uit na die publiek deur te sê kom ons kyk watse werk ons kan skep.”

Die foto dui aan waar mense regoor die wêreld ingeskakel het om die konsert te kyk. (Foto: Verskaf)

As gevolg van die beduidende positiewe reaksie deur kykers wêreldwyd, sal nog drie e-konserte in Maart en April te sien wees. “Die eerste konsert het al die kunstenaars en tegnici gratis gedoen, maar ons het onderneem om hulle te vergoed vir die volgende drie konserte.”

Kykers sal die keuse hê om, wanneer hulle kaartjies bespreek vir die vertonings, R50 te betaal per vertoning of om ʼn bedrag van hul eie keuse te skenk, verduidelik Maree.

Kunstenaars soos Nataniël, Corlea Botha, Jannie Moolman, Amanda Strydom, Dewald Wasserfall, Joshua na die Reën, Mathys Roets, Anna Davel, Ruhan du Toit, Kevin Leo, Robbie Wessels, Jak de Priester, Ricus Nel, Monique Steyn en Roan Ash sal in die volgende drie konserte te sien wees.

Dié konserte word opgeneem voordat die afsonderingsmaatreël wat Maandag deur Ramaphosa ingestel is Donderdagaand om 23:59 in werking tree.

Alexa Strachan, kunstenaar en feesbestuurder van die Aardklop Nasionale Kunstefees, het die leisels gevat om die kunstenaars vir die konsert saam te stel.

“Die konserte dra ʼn boodskap van hoop uit, en bied ʼn bietjie vermaak aan die publiek terwyl ʼn kunstenaar miskien ʼn paar rand kan verdien,” sê Maree.

Kunstenaars se reaksie

schalk bez

Schalk Bezuidenhout.

Schalk Bezuidenhout, akteur en komediant, sê sy aanlyn vertoning, wat Woensdag plaasgevind het, was ook ʼn dawerende sukses.

Sowat 1 000 kaartjies is vir die vertoning gekoop en na raming het bykans 3 000 mense na die vertoning gekyk. “Dit is my grootste vertoning ooit, aangesien ek nog nooit voor ʼn gehoor van meer as 1 000 mense opgetree het nie. En dit uit my sitkamer. Dit is ongelooflik,” sê Bezuidenhout.

Hy vertel dat mense so ver as Viëtnam ingeskakel het vir die vertoning, wat hy op die nippertjie verander het ná Ramaphosa se afkondiging Maandagaand.

“Ons wou natuurlik Schalk sing sleg uitvoer, maar ek het net besef die situasie in Suid-Afrika wat die verspreiding van die virus betref, ontwikkel daagliks so vinnig – die laaste 24 uur is ʼn hele ander ball game as die vorige 24 uur,” verduidelik hy.

In dié nuwe produksie kielie Bezuidenhout die gehoor se lagspiere deur oorspronklike, komiese liedjies uit te voer terwyl die musikant Wesley van der Westhuizen hom begelei op ʼn verskeidenheid musiekinstrumente.

“Daar was soveel besluite wat op die nippertjie geneem moes word en ons wou steeds ʼn gehalteproduk lewer. Daarom het ek ʼn stromingsdiens gekry om te help, met twee kameramanne en ʼn klankingenieur. Ná die president se toespraak het ek net besef hoe ernstig die situasie is.”

Hy het uiteindelik die besluit geneem om eerder ʼn eenmanvertoning te doen voor sy skootrekenaar se kamera. “Ek was bekommerd oor die beeld en die klank, maar mense kon my duidelik sien en hoor.”

Bezuidenhout sê hy het nie die oorweldigende reaksie na afloop van sy aanlyn vertoning verwag nie. “Dit was die meeste direkte boodskappe en reaksies wat ek nog ooit op Instagram gekry het, selfs ná enige lewendige vertoning. Dit was fantasties om mense wat ver in die buiteland is en wat ook na die huis verlang te kon bereik en laat lag.”

Volgens Bezuidenhout sal hy ook in die toekoms, selfs wanneer die korona-krisis verby is, aanlyn vertonings oorweeg.

“Dit is beslis nie minder moeite as ʼn lewendige vertoning nie, maar jy kan deur aanlyn vertonings mense op klein dorpies bereik wat jy nie andersins sou besoek nie.”

Hy beplan ook om nog ʼn vertoning of twee te lewer tydens die afsonderingstydperk in Suid-Afrika. “Ek het ook gisteraand besef mense het nou meer as ooit komedie, teater en die kunste oor die algemeen nodig. Gisteraand se vertoning het net weereens aan my bewys wat ʼn groot behoefte daar is aan ontvlugting, hetsy dit nou Amanda Strydom is wat sing of Schalk wat grappies vertel.”

Bezuidenhout glo ook dat teaters in die toekoms voller sal wees as voorheen. “Dit voel vir my asof daar skielik ʼn groter waardering vir die kunste is. Asof ons nie besef het wat ons gehad het totdat dit nie meer daar is nie. Mense wat nooit voorheen na vertonings gaan kyk het nie, sal dalk nou besef dat hulle ʼn behoefte daaraan het.”

Jakkie Louw het ook Woensdag ʼn regstreekse konsert van ‘n plaas op Oudtshoorn op sy Facebook-bladsy aangebied. (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Jakkie Louw het ook Woensdag ʼn regstreekse konsert op sy Facebook-bladsy aangebied. Die sanger het sowat 8 000 kykers bereik met dié gratis konsert, wat hy vanuit Oudtshoorn uitgevoer het.

“Die terugvoer was so positief. My boodskap aan die kykers was ook dat alles oukei gaan wees en dat ons moet onthou dat die Here in beheer is. Dit is belangrik dat ons verstaan dat ons almal, van die petroljoggie en die ou wat jou vullisdromme aflaai tot die tannie wat koeksisters bak vir die skool, deur dieselfde ding gaan.”

Louw beplan ook om tydens die afsonderingstydperk nog ʼn paar konserte op dié wyse aan te pak. “Die mense het daarvan gehou dat die konsert heeltemal akoesties is – net ek en my kitaar en mondfluitjie. En ek voer die liedjies rou uit, soos dit moet klink, in ʼn tyd waarin almal kwesbaar voel.”

  • Besoek www.optog.co.za of www.atterburyteater.co.za
  • Vir meer inligting besoek gerus OPTOG! se Facebook-blad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.