Jan Bloukaas deel goeie nuus oor kankerstryd

Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas. (Foto: Skermgreep/Facebook/Jan Bloukaas)

“Dames en here, God leef!”

Met dié woorde het die musikant Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas, Dinsdag in ʼn video op sy amptelike Instagram-profiel gedeel dat ʼn onlangse skandering daarop dui dat die kwaadaardige gewas op sy breinstam klaarblyklik verklein het.

Maroela Media het voorheen berig die “Kaas bra”-sanger is in September 2022 met breinkanker gediagnoseer en dat dié tipe gewas nie met chirurgie verwyder kan word nie.

Hy ontvang sedertdien bestralingsterapie daarvoor, en deel openhartig sy kankerstryd met sy volgelinge op sosiale media. Sy jongste album is ook te midde van sy behandeling bekendgestel.

“Ek het verwag die kanker gaan weer begin groei, en ek het onthou ons het gesê ons sal gelukkig wees as dit net dieselfde grootte sou bly, maar dit het verklein,” het die sanger Dinsdag gedeel.

Volgens Jean wys die skandering hoe die gewas dowwer word, wat glo daarop dui dat dit ook besig is om af te breek.

Dié goeie nuus volg nadat hy Sondag in ʼn emosionele video gesê het dat hy eers weer op 30 Januarie vir ʼn skandering sou gaan.

“Kort-kort dink ʼn mens net aan die skandering, so ek het my ma gevra of ons die skandering vroeër kan skuif. Ek vra asseblief dat julle bid en ek vra baie mooi dat as dit slegte nuus is, asseblief moenie dat dit die oorsaak is van iemand se wangeloof in God nie [sic].

“God is ongelooflik en ek is so dankbaar vir my lewe. As ek nou moet gaan, dan gaan ek huis toe,” het die sanger Sondag bewoë gedeel.

Bekendes soos Karlien van Jaarsveld, Peach van Pletzen, Demi Lee Moore en Early B het in die sanger se vreugde op sosiale media gedeel.

“Prys die Here!” het Van Jaarsveld onder Jean se jongste video geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ore ·

Ek het na ‘n onderhoud op TV met hom gekyk. Behalwe vir die hoendervleis en knop in my keel het hierdie jongman my met alles getref wat nodig is om dankbaar te wees. ‘n Wonderlike persoonlikheid, opgewonde en positief. Groot inspirasie. Sterkte jongman. Jy is ‘n yster

Dries ·

Het na hom geluister op Ontbytsake, en ja Ore hierbo, stem met jou saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.