Breinkanker by Jan Bloukaas gediagnoseer

Jan Bloukaas (Foto: Facebook)

Breinkanker is by die Suid-Afrikaanse musikant Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas, gediagnoseer.

Du Plessis het dié nuus Dinsdag in ʼn emosionele video op sy amptelike Instagram-profiel gedeel.

Du Plessis het oornag beroemd geword met sy 2017-trefferliedjie “Kaas bra” en het sedertdien twee albums uitgereik en die verhoog gedeel met bekendes soos Snotkop, Janie Bay, Biggy en vele meer.

Hy het in dié video verduidelik dat dokters onlangs ʼn groot gewas op sy breinstam gevind het wat nie met chirurgie verwyder kan word nie, maar dat hy moontlik bestralingsterapie sal kan ontvang.

“Ek is nie bang vir hierdie gewas nie. Hy groei in my brein en nie ek in syne nie en ek weet God staan soos ʼn reus agter my. So ouens, hoe ook al hierdie geveg eindig, hy’s reeds gewonne,” sê die sanger in sy video.

ʼn Rits optredes asook die opname van sy komende album is vir eers van die baan, maar die sanger voeg by dat hy vasbeslote is om die album klaar te maak voordat hy met behandeling begin.

“Ek gaan een van die mooiste albums vir julle almal daar buite maak. Dankie dat julle almal my toegelaat het om my droom te kon uitleef,” sê Du Plessis tussen trane deur.

“Ek gaan terugkom, sterker as ooit, boys. Ek is nie bang nie, ek’s meer hartseer om julle klomp te groet, want om voor julle op te tree maak ʼn man baie gelukkig.”

Talle bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos Janie Bay, Francois van Coke, Peach van Pletzen, Leah, Ricus Nel en Jo Black het boodskappe van ondersteuning op Instagram met die sanger gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ai, hoe loop die trane saam met joune. Jean, die land sal saam met jou glo en saam met jou bid. Ons het ‘n Almagtige God. Klou vas aan jou geloof en God sorg vir die res. Sterkte.

Lubbe ·

Huil ek nou sommer saam jou. Strekte bra, jy is in ons gebede.

Pietertjie ·

Sterkte, ou seun! My eie oudste seun is vir vier jaar al aan die stry met ‘n gewas, frontale lob. Mens oorwin nie soiets op jou eie nie, al is die mediese wetenskap deesdae uiters gevorderd!

Veldskoen ·

Ek persoonlik ken nou 2 mense wat skielike sagte weefsel kanker ontwikkel het op ‘n baie jong ouderdom. Was voorheen ongehoord.

Suzette ·

Jean, die Liewe Heer hou jou hand vas, Hy gaan jou uit die bekommernis en onsekerheid lig en ten volle genees.

Wondermaarnet ·

Sjoe, wat ‘n skok. Mag God jou gesond maak sodat jy ‘n lewende getuie kan wees van Sy groot krag en genade. Sterkte.

Delia ·

Sterkte Jean…hierdie is n moeilike pad. Hoop jy het n mediese fonds. Behandeling is so verskriklik duur.
Verder het ek nie woorde…..

Wit Leeu ·

Mag die Here jou help ! Ons bid baie hard saam met jou !

Christelle ·

Baie sterkte, staan sterk in jou geloof. Menige mense gaan vir jou bid en saam met God gaan jy die stryd oorwin.

Vanessa ·

Ag liewe hemel, my hart was nou so seer toe ek die video kyk. My hart gaan uit na jou. Ons verstaan nie al die dinge nie, maar een ding is verseker, ons gaan nie alleen deur dit nie. God gaan jou dra, elke minuut, elke sekond. Wees sterk. Ons bid vir jou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.