Jan Jan Jan-album ‘maak ʼn braai lekkerder en langpad korter’

Jan Jan Jan. (Foto: Anthony Horak)

Wat is dan nou lekkerder as ʼn egte Boere-braai met treffers van een van die land se gunstelinggroepe, Jan Jan Jan, wat in die agtergrond draai?

Die groep se debuutvollengtealbum, Al die ysters, is verlede Vrydag uitgereik. Bekende treffers soos “Wys jou vleis”, “Ek bly ʼn Boer”, “Gooi mielies” en “Die RSA in my DNA” verskyn op die album, wat 17 lekkerluister-liedjies bevat.

Die titelsnit van die album is “Al die ysters” en volgens die groep, wat bestaan uit Mooi Jan, Lang Jan en Klein Jan, verwys dié titelsnit ook na die “staatmakerliedjies” wat hulle op die album ingesluit het.

Dié liedjies sluit in “Jamblikke”, “Ai my lam”, ʼn sogenaamde keurspel van die Laurika Rauch-treffers “Vier seisoene” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, asook “Koue voete en warm liefde”.

“Die spreekwoordelike ‘jy is ʼn yster’ beteken mos ‘jy is ʼn staatmaker’. Al hierdie treffers is weer verwerk met ʼn unieke Jan Jan Jan-klank en -styl,” vertel die groep aan Maroela Media.

Lang Jan. (Foto: Anthony Horak)

“Ons is werklik oorweldig deur ons aanhangers se ondersteuning en die feit dat ons musiek nou ook op van die groot radiostasies soos Jacaranda FM en RSG gespeel word. ‘Die RSA is in my DNA’ was selfs vir ʼn paar weke in die no. 1-posisie op Pretoria FM. Ons waardeer die ondersteuning en die feit dat die publiek ons musiek geniet en ons ervaar dit in besonder by ons optredes.”

Hoewel Jan Jan Jan fokus op komiese storielyne in hulle musiekvideo’s, het “Al die ysters” ʼn ernstiger aanslag.

“Met ‘Al die ysters’ raak ons meer filosofies en skemer ʼn ernstiger kant van die groep deur. Die liedjie herinner ons daaraan dat ons almal die spreekwoordelike ysters in die vuur het en dat die lewe op die oomblik ietwat meer onstuimig kan wees,” vertel hulle.

“Ten spyte hiervan laat ons nie toe dat dit ons gees demp of onderkry nie terwyl ons voortbeur deur alles wat die lewe na ons kan gooi. Gevolglik is elkeen van ons ook ʼn spreekwoordelike ‘yster’ in hierdie tye en as dit kom by die braaivleisvuur is dit juis ook waar ons dikwels oortuigings deel, saam droom oor die toekoms en terselfdertyd vir mekaar en onsself lag – laasgenoemde iets wat so kenmerkend van ons Afrikaners is.”

Mooi Jan. (Foto: Anthony Horak)

Die groep vertel hulle het altyd groot pret op die stelle van hulle musiekvideo’s en dat hulle lekker lag en gesels agter die skerms – veral as die twee sogenaamde “Boerboel-tannies” in hul midde is.

“Die verfilming van ‘Die RSA is in my DNA’ se video was ʼn hoogtepunt en ʼn onvergeetlike ervaring. Dit was lekker om van die mooiste plekke in ons land te kan besoek en ons was bykans ʼn week lank op die pad saam op die toer. Dit was ʼn fees.”

Hulle vertel dat hulle al drie trotse Afrikaner-mans is wat doodgewone Boereseuns in hulle harte bly, en daarom vind mense aanklank by hulle en hulle musiek.

“Of ons nou in die stad bly of nie, ons hou van kuier, braai en al die ander elemente van ons Afrikaanse kultuur. Juis daarom wil ons musiek maak wat elke kuier, jagnaweek of braai nog lekkerder en geselliger maak.”

Dit is geen geheim dat Jan Jan Jan geskep is deur Stephan Hugo Botha, bemarkingsbestuurder van Boerboel Wear, nie en dit is ook hy wat elke groeplid se naam gekies het.

“Die byname is ongetwyfeld geskoei op ons voorkoms. Is alle byname nie maar gewoonlik nie?” vra hulle laggend.

Klein Jan. (Foto: Anthony Horak)

“Die algemene gevoel en klank van die album is beslis deurlopend ons unieke ‘Boere-boyband’-klank. Dus word die konsertina ruimskoots, en selfs onkonvensioneel, in ʼn amperse pop-styl in van die treffers ingespan. Ons maak meestal gebruik van regstreekse instrumentopnames wat ons musiek ook ʼn lekker organiese klank gee. Dit is die tipe musiek wat ʼn braai lekkerder en die langpad korter maak.”

“Al die ysters” is op groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Al die ysters”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.