Jonges speel weer toneel op Aardklop

Deelname aan Pronk Podium het vanjaar ongekende hoogtes bereik met indrukwekkende getalle. (Foto: Facebook/Aardklop Pronk Podium)

Die Momentum Beleggings Aardklop se Pronk Podium spog met laerskool-, tiener-, kampus- en aanlyn toneel wat ʼn kookwaterprogram vir die res van 2022 gaan oplewer.

Pronk Podium, gebore in 2017 as ʼn Aardklop‑inisiatief, is aanvanklik as slegs ’n platform vir Noordwes-Universiteit (NWU)-kampustoneel en tienerproduksies in die noordelike provinsies van die land aangebied.

“In 2020 het ons uit nood met die innoverende Pronk Digitaal begin. Geen toeskouers was in daardie stadium toegelaat nie. Na die beste van ons wete was dit die enigste kompetisie van hierdie aard wat in die land aangebied is,” verduidelik Alexa Strachan, hoof‑ uitvoerende beampte van die kunstefees.

“Intussen gaan ons steeds voort met die digitale afdeling, want ons het besef dat dit die projek toeganklik maak vir leerders en skole wat nie kan reis om aan ons ‘in-persoon’ Pronk Toneelfeeste en finale rondtes deel te neem nie.”

Danksy die ondersteuning van veral NWU Kunste, Atterbury Trust, Atterbury-teater en NATi is hierdie één projek wat bloot groei en nou nasionaal uitbrei.

Pronk Pret is daar vir laerskole (nog ʼn eerste landswyd), Pronk Digitaal vir aanlyn inskrywings, Pronk Podium vir tieners en studente, en sedert Augustus 2021 is daar ook ’n YouTube-reeks hieroor.

Die beoordelaars en mentors sluit gesoute akteurs en teatermakers soos Alexa Strachan, Kaz McFadden, David Brink, Adriana Faling, Mila Guy, Simoné Pretorius, Luan Jacobs, Lee Visagie, Vianney Farmer en Carina Nel in.

Deelname het vanjaar ongekende hoogtes bereik met indrukwekkende getalle:

  • Pronk Pret: 11 skole met 14 toneelstukke en ongeveer 210 deelnemers.
  • Pronk Podium: 27 skole met 72 toneelstukke en ongeveer 720 deelnemers.
  • Kampus Toneel: 30 toneelstukke met ongeveer 150 deelnemers.

Die semi-finaal en finaal het vanaf 29 Augustus tot 3 September in die Atterbury-teater in Pretoria plaasgevind.

“Van die akteurs was vir die eerste keer op die verhoog en hulle is hierdie jaar al in gr. 11. Hierdie kinders en jong mense is só dapper. Ek dink terug aan toe ek óók so was: vreesloos voor ’n klomp mense, vol vertroue in myself en in dít wat ek het om te bied om die wêreld vir ander en myself ’n beter plek te maak. Hou so aan, want julle herlaai ons oues se batterye,” sluit Strachan af.

Die wenners tree Sondag 9 Oktober by Laerskool Louw Geldenhuys in Linden, Johannesburg, op tydens vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop, in samewerking met NWU Kunste, NATi en Atterbury Trust.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.