Aardklop met oorgawe terug in Pta

Van 30 September 2022 tot 9 Oktober 2022 kuier Momentum Beleggings Aardklop in Pretoria. (Foto: Aardklop Nasionale Kunstefees/Facebook)

Toe Aardklop in 2021 koers inslaan na die Jakarandastad, was gehore uitgehonger en ontvanklik vir egte teater, kunste, diskoers, interaksie en natuurlik, samesyn.

Vanjaar wil die fees saam met sy nuwe naamvennoot Momentum Beleggings presies dít aan feesgangers bied.

Van 30 September tot 9 Oktober kuier Momentum Beleggings Aardklop in Pretoria en bied produksies by verskeie venues in die stad aan.

By die AfriForum-teater is Chris van Niekerk te sien in Madame Pylinska en die geheim van Chopin, aanhangers van Rocco de Villiers kan regskuif vir Fliekmusiek, Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck bring ʼn lekker-lag-ervaring met Laerskool Noord, Ira Blanckenberg en Robert Hindley speel in Oom Bey, my pa en gehore kan boonop uitsien na ʼn nuwe produksie, Mixtape van die Liefde, met onder andere Jana Cilliers, Matthys Roets en Anna Davel.

Die Atterbury-teater bied Terminaal 3 aan met Anna-Mart van der Merwe, André Roothman, Stian Bam, Edwin van der Walt en Carla Smit. Vanjaar se Pronk Podium-wenners sal ook by dié teater te sien wees.

Nataniël (Foto: Bernard Brand)

Nataniël se Die Smitstraat Suite, spesiaal geskep vir Momentum Beleggings Aardklop word in samewerking met AK21 en Afrikaanse Hoër Seunskool by dié skool aangebied.

Vanjaar se feesaanbod in Pretoria strek verder as teater. Die Voortrekkermonument is die amptelike feesterrein en hier kom kry jy jou skeut visuele kuns, diskoers, boekegesprekke, stalletjies, musiek en ʼn rits ander opwindende aktiwiteite wat ʼn regte Aardklop-feesgevoel skep.

Diskoers en gesprekke word van 6 Oktober af daagliks aangebied. Om 09:00 vind Beeld & Boeretroos plaas waar Barnard Beukman en lede van sy redaksie die nuus van die dag bespreek, en daarna volg aktuele gesprekke met Lourensa Eckard van kykNET se In Gesprek of Kabous Meiring van Prontuit om 11:00.

Feesgangers kan hulleself tussendeur by die kos- en kunsmark verlustig voor hulle by die boekegesprekke aansluit, ʼn draai by die visuele kunsuitstallings maak of ʼn drankie saam met vriende by die kykNET-verhoog geniet met musiek in die agtergrond.

Amanda Strydom se nuutskepping, Ligval, by die Senotaafsaal en ʼn produksie met Antjie Krog en Antoinette Kellermann, wat albei vanjaar 70 word, is van die unieke aanbiedinge wat by die Voortrekkermonument te sien is.

Maroela Media het vroeër berig dat Momentum Beleggings Aardklop vanjaar in Pretoria, asook in Potchefstroom en Linden, aangebied word. Die fees vind van 30 September tot 2 Oktober in Potchefstroom plaas en van 6 tot 9 Oktober wip die fees se teaterproduksies in Linden op.

Besoek Aardklop se webwerf en hou die fees se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Wat. Soek. Aardklop. In. Pretoria.?? Dis ‘n Potchefstroom-fees!

Elma ·

Wat ek al op Aardklop se website gesien het, lyk die Potch program maar aan die skraal kant.
Ek hoop dat die organiseerders sal onthou watter groot inspuiting die Potchefstromers, EN mense wat van ver af kom om dit by te woon, vir die fees gegee het!
Mamon is mos koning vir mense en die Gautengers het seker meer geld.
Ek kan nie dink dat Pretoria naastenby dieselfde gees en lewe as hier in Potchefstroom kan hê nie. Niks teen Gauteng nie, maar die fees is Potch s’n, was nog altyd! Ek het lank in Pretoria gewoon, maar het elke jaar op die pad geklim in Potch toe gekom, omdat ek WOU en omdat dit altyd soooo lekker was. Nou woon ek hier vir 5 jr en vat hulle die fees in groot deel weg. Dis jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.