Juan Boucher: ‘As ek na die album luister, voel ek gewigloos’

Juan Boucher (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met 12 jaar van sukses in die musiekbedryf en sewe goue- en platinumverkoperalbums agter sy naam is Juan Boucher een van Afrikaans se gewildste kunstenaars wat diep in sy aanhangers se harte nesgeskop het.

Sy agtste vollengte-album, Gewigloos, is pas uitgereik. Die album bevat 12 snitte, elkeen ʼn oorspronklike snit uit Boucher se eie pen.

Hy vertel in ʼn ateljee-onderhoud met Maroela Media dat hy tydens die afsondering weens die Covid-19-pandemie tyd gehad het om rustig te besin waaroor hy wou skryf en watter Suid-Afrikaanse kwessies hy wou aanraak.

“Ek sê altyd ons as kunstenaars se werk is om die volk bymekaar te hou. Suid-Afrika is ʼn fantastiese land en ons kultuur is wonderlik, so as ʼn mens kan byhou met die musiek is jy op die regte spoor,” sê Boucher.

“Dit is my eerste album waarin nie een van die klanke geprogrammeer is nie en regstreeks met regte instrumente opgeneem is.

“Ons maak nog altyd van organiese kitare gebruik, maar het voorheen altyd staatgemaak op programmering van tromme en baskitare. Daar is egter niks so lekker soos om ʼn live drum kit in die ateljee te hê nie. Vinnie Henrico is nog altyd een van my groot helde op tromme en dit is vir my ʼn eer dat hy op my album kon speel.”

Denny Lalouette, Rudi “Vyfrand” Kleingeld en Wolfie Viviers speel ook op die album. Tertius Human het die album vervaardig.

“Wanneer ek na die album luister, voel ek gewigloos. Elke liedjie is in ʼn unieke skryfstyl, ritme en tempo, met kitare wat sag skree en die bas wat alles nostalgies bymekaar hou.”

Die snitte op Gewigloos is sorgvuldig uitgesoek om ʼn storie te vertel. Afgesien van opgewekte dansnommers en pragtige liefdesliedere is daar ook twee liedjies wat saam met ander kunstenaars geskryf is, ingesluit.

“In die Bosveld” saam met Neil Somers is baie goed ontvang en kuier al weke lank boaan die trefferparades van verskeie radiostasies. Die musiekvideo het reeds meer as 393 000 kykbeurte op YouTube gehad.

Die snit “Toestand” is saam met sy agent en medemusikant Len Muller geskryf. “‘Geroeste Ysters’ is ʼn huldeblyk aan die manne wat destyds ons grense opgepas het tydens die oorlog. ‘Brandewyn’ is eintlik geskryf toe ek 21 was en sou nie op die album gewees het nie, maar toe daag iemand my uit om dit wel op te neem en nou is dit deel van die speellys,” vertel hy.

Die jongste enkelsnit vanaf die nuwe album is getiteld “Ek dink ek mis maar net jou hart” en volgens die sanger handel die liedjie oor die persoon wat jy tans liefhet en nie iemand in die verlede nie.

“Wanneer jy al lank met iemand in ʼn verhouding is en julle dryf so ʼn bietjie uitmekaar en kommunikeer nie meer so doeltreffend nie, is wanneer jy kan sê: ‘Ek dink ek mis maar net jou hart’. Dit is ʼn liedjie vir elkeen wat al ooit lief was vir iemand en sal by almal aanklank vind.”

Hy vertel hy het inspirasie vir die liedjie gekry tydens die afsondering toe hy gereeld deur aanhangers op die webwerf MyFanpark gevra is om liedjies of boodskappe vir hulle geliefdes te stuur wat weens die geslote landsgrense van mekaar geskei was.

“Die liedjie se boodskap beteken eintlik soveel meer as wat woorde kan beskryf. Ek dink dit is moontlik my gunstelingsnit op die album.”

Die musiekvideo van “Ek dink ek mis maar net jou hart” is deur Wian van der Walt van Vonk Musiek vervaardig en is al langs die kus geskiet – van Vishoek tot in George.

Regdeur die video is daar skote van Boucher wat alleen staan en die lewe bepeins, wat simbolies is van die swaar tye in verhoudings waarin ʼn mens eensaam voel en jou geliefde mis.

“Ek wou graag hê dat die video moes lyk asof dit in ʼn ander wêreld afspeel, so hoewel dit in Suid-Afrika gedoen is, lyk dit asof ons in die sneeu geskiet het. Daar is geen beplanning vir die video gedoen nie – ons het die vorige aand by Len op Vishoek waar hy woon, gekuier en die volgende dag het ons ʼn bietjie deur die gebied gereis. Ons het daar en dan besluit om gedeeltes van die video te skiet.”

Gewigloos is beskikbaar op alle digitale platforms.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.