Karel Bester: ‘Ek het Afrikaanse musiek herontdek’

Karel Bester. (Foto: skermgreep)

Die langhaar-Kapenaar Karel Bester se herontdekking van Afrikaanse musiek, saam met sy unieke stem en musiekstyl, het Suid-Afrikaners opnuut bekoor.

Hierdie 27-jarige het in 2021 soos ’n vars bries oor die Afrikaanse musieklandskap kom waai en hy sing liedjies soos “Sal jy saam my kom drink” en “Afrikaner Outlaws”.

Hy het in Stellenbosch grootgeword, met sy voete en hart ferm in Kaapse grond geplant.

Dit is juis by die Universiteit Stellenbosch waar hy begin het met ’n graad in regte, iets wat hy opsy geskuif het om sy musiekdroom na te streef.

Bester wil graag dieper delf in dit waaruit Afrikaanse musiek destyds Inspirasie geput het.

“Baie van die ou Afrikaanse musiek het sy oorsprong in country- en bluegrass-musiek. Ek wil daardie weer in die hede inbring. Mense doen baie elektroniese, skoon produksies. Ek wil die ‘vuiler klanke’ terugbring.”

Hy het grootgeword met die musiek van mense soos David Kramer en Anton Goosen, maar gedurende die eerste paar jaar van musiekmaak was dit Engelse musiek wat die langhaarman vasgegryp het.

In 2019 het sy passie vir Afrikaans weer kop uitgesteek en hy het besef dat die klop van Afrikaanse musiek aan sy deur nie geïgnoreer kan word nie.

“Ek het gedink wow, hier is iets waarby ek my twee sent kan ingooi. Ek het Afrikaanse musiek weer begin waardeer.”

Dié besluit het groot vrug afgewerp vir Bester, en sy folk-rock-musiek word vandag in talle mense se huise herken en waardeer.

Wanneer mense na sy musiek luister, wil Bester graag hê dat hulle gevoelens van trots en nostalgie moet beleef.

Hy wil bewustheid oor wat dit beteken om ’n Afrikaner-herkoms te hê ondersoek en vier.

“Mens moet bietjie dink oor Afrikaans wanneer hulle na die musiek luister.”

Sy passie vir musiek deel hy graag en droom van ’n volhoubare en suksesvolle musiekloopbaan. Hy hoop ook om dié passie met volgende generasies te deel en hul te inspireer.

“As iemand vir sê dat my musiek hul geïnspireer het om self Afrikaanse musiek te begin maak, sal dit die grootste kompliment vir my wees.”

Kyk na ’n video-onderhoud met Karel Bester hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.