Keur van klassieke musiek by dié fees te hoor

Carla Smith (links) is in die rol van Clara en die pianis Nina Schumann (regs) verklank Clara se storie met klaviermusiek. (Foto: Verskaf)

Van 18 tot 21 Mei kan klassieke musiekliefhebbers by die Atterbury Teater in Pretoria aansluit vir ʼn diverse musiekprogram met onder meer ʼn huldeblykkonsert aan die operasangeres, Mimi Coertse, en uitvoerings deur die internasionale duo, Maria du Toit en Vera Kooper.

Atterbury Klassiek begin op 18 Mei met ʼn simfoniekonsert, onder leiding van Richard Cock. Gehore kan uitsien na musiek deur die Phoenix Orkes van Johannesburg en Charl du Plessis as die solis in Symphonic Piano.

Dit is die eerste keer dat ʼn vol orkes en klaviersolis op die verhoog van die Atterbury Teater te sien is. Die konsert bevat musiek van Lady Gaga, Bach, Vivaldi en Mozart.

Clara, ʼn toneelstuk oor die lewe van die pianis en komponis Clara Schumann, word op 19 Mei aangebied. Die bekende pianis Nina Schumann en aktrise Carla Smith gee lewe aan dié verhaal.

Isaac van der Merwe, wenner van die Atterbury Klavierkompetisie vir 2022. (Foto: Verskaf)

Op 20 Mei bied Isaac van der Merwe, wenner van die Atterbury Klavierkompetisie vir 2022, ʼn solo-klavieruitvoering aan. Hy lewer uitvoerings van werke deur Mendelssohn, Haydn en Rachmaninoff.

Die musiekfees word Sondag met twee konserte afgesluit:

Tydens die eerste konsert kan konsertgangers naderskuif vir ʼn program deur die internasionale duo, Maria du Toit (klarinet) en Vera Kooper (klavier) van Nederland. Dit bestaan uit klassieke musiek deur vrouekomponiste en werke wat minder dikwels gehoor word.

Amira Willighagen, wenner van Holland’s Got Talent, en Charl du Plessis, bekroonde  Steinway-pianis, bring Sondagaand hulde aan Mimi Coertse. Met Mimi sing Mimi gedenk dié musici Mimi se bydrae tot die Afrikaanse kunslied, waaronder “O Boereplaas”, “Die Berggans” en “Heimwee”.

Kaartjies vir Atterbury Klassiek 2023 is by Seatme beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.