Klaviervirtuoos bring winterwarmte na Pretoria

Die klassieke pianis Pieter Grobler. (Foto: Verskaf)

Musikale werke vir klavier deur Bach, Beethoven en Medtner word eersdaags deur een van Suid-Afrika se voorste klaviervirtuose uitgevoer.

Op Sondag 4 Junie keer die klassieke pianis Pieter Grobler terug na sy alma mater vir dié uitvoering wat deur Aardklop Aubade aangebied word.

Grobler is ʼn gerespekteerde en ervare kamermusiekmusikant en professor in klavier aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Noord-Texas, onder leiding van Joseph Banowetz, verwerf.

Hy het al verskeie keer in die Verenigde State van Amerika en China opgetree en menige pryse vir sy uitvoerings gewen.

Die uitvoering word by die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria (Affies) aangebied en dit sluit uitvoerings van werke uit Beethoven se Sonate no. 21 in C-majeur uit Opus 53, bekend as Waldstein, Bach se Sonate in A-majeur uit WQ* 65 no. 32, en Medtner se Vergessene Weisen uit Opus 39. ʼn Voorprogram word deur Affies se strykkwartet aangebied.

Aardklop Aubade is reeds gevestig as ʼn tuiste vir die bevordering van Suid-Afrikaanse klassieke musiek.

Sluit gerus aan vir hierdie solo-klavieruitvoering deur kaartjies by Ticketpro te koop. Kaartjies kos R190, terwyl pensionarisse R150 en leerders R100 betaal. Daar sal ʼn ligte ete en ander versnaperinge voor of ná die konsert by Affies se 1920-restaurant op die skoolterrein beskikbaar wees.

*WQ staan vir Wotquenne, die katalogiseringsvoorvoegsel vir werke van Bach.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.