Koos Doep leef voort

Koos-du-Plessis

Koos du Plessis. Foto: En.wikipedia.org

Op 10 Mei vanjaar sou die legendariese Afrikaanse sanger en liedjiekrywer Koos du Plessis 70 jaar oud geword het.

Jacobus Johannes du Plessis is in die distrik Rustenburg gebore, maar hy het sy kinderjare in Springs aan die Gautengse Oos-Rand deurgebring. Hy het aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer; toe hy in standerd 8 (vandag graad 10) was, wou hy sanglesse probeer neem, maar sy musiekonderwyseres het hom afgeraai weens ’n skynbare gebrek aan vaardigheid.

Ná matriek het hy ’n onderwysdiploma aan die Normaalkollege Pretoria behaal en daarna ’n BA-graad met spesialisering in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Du Plessis se eerste blootstelling aan die musiekbedryf het gekom toe ’n vriend van hom, Karl Theunissen,  ’n kassetopname van sy musiek na Nick Taylor geneem het. Taylor was toe al bekend vir sy treffer “Stille rivierstroom”.

Twee jaar later het Du Plessis drie van sy liedjies op die televisieprogram Perspektief gesing. In dieselfde jaar was Du Plessis deel van Stephan Bouwer se televisiereeks Fyn net van die woord: ’n reeks programme met voorlesings van gedigte deur jong en gevestigde digters en met musiek deur Laurika Rauch, Nick Taylor en Du Plessis.

Toe die rolprentvervaardiger Katinka Heyns op soek was na ’n temaliedjie vir die televisiereeks Phoenix en Kie, het sy op Du Plessis se komposisie “Kinders van die wind” afgekom. Jana Cilliers het in dié reeks die rol vertolk van ’n nagklubsangeres, maar daar is besluit om nie haar sangstem vir haar karakter te gebruik nie. Rauch het “Kinders van die wind” opgeneem en daarmee saam ook “Sprokie vir ’n stadskind”, “Die somer is verby” en “Skielik is jy vry”. “Kinders van die wind” is op ’n kortspeler uitgereik en op 14 September 1979 het dit in die 17de plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit het die derde plek bereik en was 13 weke op dié treffersparade.

Die sukses van “Kinders van die wind” het gelei tot Du Plessis se eerste album, Skadu’s teen die muur. Benewens die liedjies uit Phoenix en Kie het die album treffers soos “As jy my kon volg”, “Pretoria”, “Op die pad na Nooitgedacht” en “Najaarsdroom” opgelewer. In 1981 het sy tweede album, As almal ver is, verskyn met die treffers “Boshoek”, “Onthou jy nog” en “Groet sonder woorde”. Du Plessis het op hierdie album ook ’n liedjie vir elk van sy drie dogters, Irma, Karla en Karien, geskryf.

In 1982 is Du Plessis se derde album, Herbergier, uitgereik, en “Skimme”, “Droomswendelaar”, “Koue-vuur”, “Nes ek wil” en “Spore op die maan” was die treffers. Op hierdie album was ook ’n liedjie opgedra aan sy vrou, Mornay. Dit sou die laaste album wees wat Du Plessis in sy leeftyd sou uitreik.

Op 15 Januarie 1984 is Du Plessis in ’n motorongeluk dood, maar sedertdien het verskeie kunstenaars hulde aan hom gebring.

Net die volgende jaar het ’n huldeblyk-album, Koos se plaat, verskyn. Daarvoor het Lucas Maree, Coenie de Villiers, Jannie du Toit en Nick Taylor van sy bekendste komposisies opneem. Een van Du Plessis se bekendste komposisies was “Gebed”, hoewel hy dit nooit opgeneem het nie. Maree en Du Toit het op dié album wel ’n weergawe daarvan ingesluit.

In 1996 is die album Die vierde horison uitgereik. Dit het bestaan uit opnames van Du Plessis wat ná sy dood ontdek is en het snitte soos “Splinterruit”, “Woorde” en “Nagkonsert” ingesluit.

Daar is ook ’n aantal kunstenaars wat huldeblykalbums met Du Plessis se bekendste treffers uitgereik het, onder meer Mathys Roets (Nokturne), Piet Smit (Piet Smit sing Koos du Plessis), Theuns Jordaan (Kouevuur) en Jannie du Toit (Doep is nie dood nie).

Daarby is Du Plessis se komposisie “Somerkerfees”, wat deur Jannie du Toit opgeneem is, ingesluit in die Liedboek vir gebruik in eredienste.. Toe die Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog twee jaar gelede van stapel gestuur is, is Du Plessis se komposisie, “Kinders van die wind”, as die algehele wenner aangewys. Daarby is elke snit wat hy ooit opgeneem het, verlede jaar op ’n dubbel-CD met die gepaste titel Volledig uitgereik.

Hoewel Du Plessis ’n suksesvolle sanger en liedjieskrywer was, het hy niks van verhoogoptredes gehou nie en publisiteit vermy, selfs al het hy in die nagkantoor van die destydse koerante Oggendblad en Die Transvaler gewerk. Daarby het hy volstrek geweier dat platemaatskappye sy liedjies meer “kommersieel aanvaarbaar” maak. Dit verklaar waarom “Kinders van die wind” eers ’n treffer geword het meer as tien jaar nadat hy dit geskryf het.

Du Plessis was dalk net vyf jaar lank in die musiekbedryf, maar sy bydrae tot dié bedryf kan nie gering geskat word nie. Saam met Jannie du Toit, Lucas Maree, Anton Goosen en Coenie de Villiers het Koos du Plessis die voortbestaan van Afrikaanse musiek verseker deur verder te dink as net die oorsese melodieë met Afrikaanse woorde wat destyds in Afrikaanse musiekliefhebbers se keelgate afgedruk is. Hy was nie bang om kwessies soos alkoholisme en depressie kaalvuis te takel nie en ’n mens sou hom nooit daarvan kon beskuldig dat hy sentimentele lirieke geskryf of gesing het nie.

Hoewel hy nie meer met ons is nie sal sy musiek vir altyd voortleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae