Kyk: Sangduo Reën wil positiwiteit met nuwe album saai

Richann Brüssow en Nolene Spinks. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Met ʼn nuwe lid, nuwe klank en nuwe album is die sangduo Reën reg vir die vars begin wat hul naam se betekenis belowe.

Dié groep, wat uit Boer soek ʼn vrou se Richann Brüssow en nuweling Nolene Spinks van Maak My Famous bestaan, se splinternuwe EP-album is nou op alle groot musiekstromingsplatforms beskikbaar.

Die album, getiteld Weer, bevat lekker ritmiese liedjies, onder meer die treffer “Skobbejak”, waarin die gewilde Afrikaanse sanger Refentse ook gehoor word, en die groep se nuwe enkelsnit “Ek kan nie wag nie”, asook die hoendervelmooi ballade “Klippe”.

Maroela Media het vroeër berig dat die 21-jarige Spinks by die groep aangesluit het nadat René de Klerk die groep verlaat het om haar loopbaan in politieke wetenskap na te jaag. De Klerk het destyds aan Maroela Media gesê sy glo dat Spinks haar uitstekend van haar taak sal kwyt as deel van Reën.

Hoewel De Klerk se uittrede vir hom ook bittersoet was, is Brüssow opgewonde oor die nuwe rigting wat die groep inslaan.

Hy vertel dat benewens die nuwe treffers wat saam met die musiekvervaardiger Murray Lubbe en Shan Read geskryf is, die album ook van sy ouer liedjies wat destyds saam met sy vriend Constant van Graan neergepen is, sowel as insae van Die Heuwels Fantasties se Hunter Kennedy insluit.

Die duo se splinternuwe album Weer is nou op alle groot stromingsdienste beskikbaar. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Alhoewel sy later in die skryfproses eers by hom aangesluit het, het Spinks ook volgens haar nuwe sangmaat ʼn groot bydrae gelewer om onvoltooide liedjies se lirieke deur te hak.

Die duo het vir die bekenstelling van nuwe album ʼn plaaskuier in Pretoria gehou, skaap op die spit en al. Talle bekendes, onder wie die internet-ster Lisa van Rooyen oftewel Lisa met die Rooi Hare, sanger en musikant Danny Smoke en die TikTok-paartjie Janey en Waney, het die geleentheid saam met die musiekgroep kom geniet.

Gaste is ook met ʼn akoestiese vertoning van die groep se nuwe liedjies bederf.

Brüssow en Spinks het tydens die bekenstelling aan Maroela Media gesê dat hulle as groep graag deur positiwiteit gekenmerk wil word en hoop dat hul musiek ʼn glimlag op mense se gesigte sal sit.

“Ons het eerstehands ervaar dat hoewel dinge nie altyd uitwerk soos jy beplan het nie, daar altyd ʼn positiewe benadering is wat mens kan volg,” sê Brüssow, wat benewens sy besige musiekloopbaan steeds in die Vrystaat boer.

Oor wat die toekoms vir die groep inhou, skerts Spinks dat die titel van hul enkelsnit die mees gepaste antwoord bied: “Ek kan nie wag nie!”.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.