Nuwe lid vir sangduo Reën

René de Klerk het aangekondig dat sy die sangduo Reën verlaat. (Foto: Christian Wolf)

René de Klerk, een helfte van die Afrikaanse sangduo Reën, het pas aangekondig dat sy dié groep gaan verlaat.

Aanhangers van Boer soek ʼn vrou was in Julie verlede jaar saam met Richann Brüssow en René hartseer toe die nuus dat hulle liefdespaadjie geskei het, aan die lig gekom het.

Gelukkig het ondersteuners van dié paartjie, wat mekaar tydens die 13de seisoen van die gewilde maatsoekreeks op kykNET ontmoet het, steeds die duo se musiek gehad om na te luister.

Richann en René het die sanggroep Reën begin tydens hulle verhouding en het groot sukses behaal met hulle debuutenkelsnit, “Vrystaat vlaktes”, wat goue status bereik het en op al wat ʼn Afrikaanse musiektreffersparade gepryk het.

Die musiekvideo vir dié treffer het ook meer as 1,8 miljoen kykbeurte op YouTube. Intussen het hulle nog twee enkelsnitte, “Stof” en “Vakansie op die platteland”, uitgereik, wat ook met luide applous deur aanhangers verwelkom is.

René het egter nou die moeilike besluit geneem om die duo vaarwel te roep en opsy te staan vir ʼn nuwe sangmaat wat eersdaags saam met Richann musiek sal maak.

René en Richann het saam goue status bereik met die liedjie ‘Vrystaat vlaktes’. (Foto: Hendrik Spangenberg – Select Musiek)

Die jong, donkerkop sangeres Nolene Spinks wat onder haar bynaam, Spinksie, aan Emo Adams se kykNET-talentsoekprogram Maak my famous deelgeneem het, neem nou René se plek in dié duo in.

Volgens René is sy baie hartseer om die groep te verlaat, maar is sy opgewonde om te sien hoe Nolene die groep na nuwe hoogtes neem.

“Dit is bittersoet,” sê René in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Dit is nooit hoe ʼn mens dink die storie gaan eindig nie en wanneer jy met ʼn projek begin, het jy nie in gedagte of dit goed of sleg gaan eindig nie.”

Sy moes egter weens haar veeleisende beroep in die politieke wetenskap nou die leisels in die sangduo aan iemand anders oorgee.

“Die sanggroep en die sukses wat daarmee gepaard gegaan het, het my onkant gevang en het my lewe op so ʼn positiewe manier verander. Dit was ʼn ongelooflike geleentheid om deel te wees van die Afrikaanse musiekbedryf en om saam met fantastiese mense te werk.

“Ongelukkig is dit aan die einde van die dag net nie vir my moontlik om my beroep te volg terwyl ek deel is van die duo nie. Dit was nooit in my beplanning dat ek sou moes kies nie en ek voel steeds baie bevoorreg dat ek dié hoofstuk in my lewe kon hê,” verduidelik René aan Maroela Media.

“Ek voel so ʼn bietjie skuldig, want dit is iets wat ek nooit voorsien het nie. Ongelukkig is ek net nie in ʼn posisie om die musiek op so ʼn groot skaal aan te pak nie.”

Volgens René was dit ʼn “onbeskryflike ervaring” om deel te wees van Reën. “Die ondersteuning wat die groep gekry het sedert ‘Vrystaat vlaktes’ uitgereik is, was soveel meer as wat ons ooit kon dink.

“Dit was so ʼn groot voorreg en leerskool, nie net van die musiekbedryf nie, maar ook van die lewe en ʼn mens weet nooit – dalk sien die musiekbedryf my eendag weer. Vir nou wil ek net eers weer teruggaan na my musikale wortels en musiek maak vir myself in my kamer met my kitaar en net weer myself herinner aan wat musiek vir my beteken,” verduidelik sy.

“Ek het nooit gedink dat ek eers die binnekant van ʼn opname-ateljee sou sien nie, wat nog van ʼn enkelsnit uitreik wat goue status bereik. Dit het werklik my wildste drome oortref,” sê René oor “Vrystaat Vlaktes”.

Tog het sy geen twyfel daaraan dat Nolene haarself uitstekend van haar taak sal kwyt as deel van Reën nie.

“Ek het baie vertroue in haar. Sy is lieflik en ons het heerlik gesels. Ek weet sy gaan ʼn massiewe sukses hiervan maak en ek is baie opgewonde om te sien wat sy alles doen,” sê René.

Ontmoet Nolene

Nolene Spinks sal voortaan saam met Richann Brüssow deel vorm van Reën. (Foto: Willem Botha)

Nolene vertel aan Maroela Media sy het in ʼn musikale familie grootgeword en was op skool in kore en het aan produksies deel geneem.

“Ek het musiekvervaardiging studeer deur die Trinity London College en het in 2020 deelgeneem aan Maak my famous. Dit het my laat besef dat ek ʼn professionele sangloopbaan wil aanpak.”

Murray Lubbe, die musiekvervaardiger wat die man agter die sukses van Reën se vorige enkelsnitte is, het Nolene ontdek op die gewilde sosiale media platform TikTok waar sy “sommer net liedjies gesing het”, sê sy.

Hy was onmiddellik beïndruk. “Toe skryf hy [Murray] vir my op Facebook en ek moes besluit of ek gaan spraakterapie studeer, soos wat ek beplan het, en of ek myself ten volle aan Reën gaan toewy.”

Sy vertel sy word 21 jaar oud op Reën se eerste volwaardige vertoning as nuwe sangduo. “Ek is in die wolke en opgewonde om saam met Richann dié reis aan te pak. Ek sal uiteraard nooit vir René kan vervang nie. Ek is net ʼn nuwe lid van die groep en hoop dat aanhangers my met ope arms sal aanvaar.”

Richann, wat naby Frankfort in die Vrystaat boer, beaam dit en sê dat Reën beplan om van krag tot krag te gaan.

Richann en Nolene. (Foto: Willem Botha)

“Ek verstaan René se besluit. As iemand voel hulle lewe slaan ʼn sekere rigting in, dan moet hulle saam gaan. Ek is besig om te boer, maar vir my voel dit asof ek nie die geleentheid kan laat verby gaan nie. My beroep laat gelukkig ruimte vir ʼn musiekloopbaan en ek voel uiters gelukkig dat ons dit kan doen op die vlak wat ons dit nou doen. ”

Volgens Richann kan aanhangers ʼn nuwe klank verwag. “Daar is talle verrassings wat voorlê en die volgende enkelsnit getiteld ‘Ek kan nie wag nie’, is ʼn lekker ritmiese snit met ʼn positiewe boodskap,” verklap hy.

“Ek kan nie wag nie” word op Vrydag 25 Februarie uitgereik. Richann het die liedjie saam met Murray en Shan Read geskryf.

“Die liedjie gaan daaroor dat ʼn mens dankbaar moet wees vir wat jy vandag het en dat jy moet fokus waarop jy kan. Vat ʼn kans, leef ʼn bietjie en moenie bang wees nie! Kom ons word wakker en geniet die lewe,” sê Richann.

Reën se jongste enkelsnit, “Ek kan nie wag nie”, word eersdaags uitgereik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ek hou van Nolene, ek dink ook sy is n beter sanger.
Hulle maak `n beter en mooier couple

Veri ·

Watse werk in politieke wetenskap doen sy?

Ek het die idee gekry politieke wetenskap is soort van ‘n grap. Dit klink so nuttig soos onderwater mandjie vleg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.