Die kykNET Ghoema-toekennings bring vanjaar weer die grootste rolspelers in die musiekbedryf byeen om musiekvrystellings tydens die 2018-kalenderjaar te bekroon.
Vanjaar vier die Ghoemas sy agtste bestaansjaar en dit bly steeds een van die mees gesogte toekenningsgeleenthede vir kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf. Oor die afgelope sewe jaar het die Ghoemas ʼn enorme impak op die loopbane van talle kunstenaars gehad.
Demi Lee Moore, die wenner van VIA se werklikheidsprogram, Die Kontrak, se debuutalbum Mis eet slaap herhaal is benoem vir beste pop-album deur ʼn vroulike kunstenaar.
Die titelsnit van dié album, wat geskryf is deur Johan Oberholzer, is ook benoem vir beste komposisie van die jaar, terwyl die musiekvideo van die liedjie vir beste musiekvideo benoem is. Dié video het reeds bykans 1,2 miljoen trefslae op YouTube.
Ivan Roux, wat tweede in Die Kontrak was, se debuutalbum, Daai Ding, is saam met Douvoordag, wat hul debuutalbum Die Avontuur in Oktober verlede jaar uitgereik het, benoem vir nuweling van die jaar. Die Avontuur is ook benoem vir beste album deur ʼn duo of groep en vir beste alternatiewe album.
TWEE, met Herman Kleinhans en Maria Viviers, se album Sirkels is ook benoem in die kategorie vir beste album deur ʼn duo of groep en hul snit “Patensie” is benoem vir beste komposisie van die jaar. Die snit is deur Kleinhans geskryf.
Die gewilde sanger Refentse is ook in twee kategorieë benoem. Sy jongste album, Liefdegenerasie, is benoem vir beste kontemporêre album deur ʼn manlike kunstenaar en die snit “Reisiger” uit dié sanger se pen is benoem vir beste komposisie van die jaar.
Die jong kunstenaar Almero se album Maandag en die gewilde sanger en liedjieskrywer Jan Blohm se album Die Liefde Album is ook benoem vir beste alternatiewe album. Blohm is ook saam met Elvis Blue, Joe Foster, Johan Oberholzer en Pietman Geldenhuys benoem as beste solo-liedjieskrywer.
Franja du Plessis se album Hittegolf, Amor Vittone se album Ek is net ʼn ma en Elizma Theron se album Hierdie hart brand liefde, is benoem in die kategorie vir beste pop-album deur ʼn vroulike kunstenaar.
Die Ghoema-galageleentheid vind op 17 April by die Sun Arena, Times Square in Menlyn, Pretoria, plaas en word vir die derde jaar regstreeks op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.
Volg die skakel vir ʼn volledige lys van benoemings.