Liedjieboer stap lang pad in Afrikaanse musiekbedryf

Anton Goosen die liedjieboer (Foto: Verskaf)

Ons eie liedjieboer Anton Goosen vier vanjaar vier dekades in die musiekbedryf en ’n arsenaal van lirieke, staaltjies en verhale.  Ter viering van sy veertig jaar in die bedryf, stel hy sy album 40 Jaar (1979-2019) liedjieboer innie langpad bekend wat van ou tot splinternuwe treffers bevat.

Die liedjieboer se musiek het in die laat sewentig- en tagtigerjare grense verskuif in die Afrikaanse musiekbedryf.  Hy het die grondslag van die rockgenre in Afrikaans gelê en in daardie jare omtrent die tonge aan die gons gehad.

Luidens ’n berig van Vonk Musiek het Goosen veertig jaar gelede as jong kunstenaar sy eerste album uitgereik tydens die musiek-en-liriek-beweging.  Die eerste weergawe van sy bekende treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, ook die temalied van die 1979-film Pretoria, o Pretoria, was sy deurbraak in die musiekbedryf as sanger en liedjieskrywer.

Na drie dae op die lug, is dié weergawe egter deur die SAUK se streng interne sensuurstelsel verban nadat ’n ministersvrou gebel en gekla het oor die lirieke se inhoud.  Dié lied is dieselfde middag nog wéér opgeneem en die weergawe soos ons hom vandag ken, het ’n top‑10-treffer geword.

Goosen stel sy debuutalbum, Boy van die Suburbs, in 1979 bekend met immergewilde treffers soos “Waterblommetjies” en “Blommetjie gedenk aan my” daarop.  “Blommetjie gedenk aan my” word as die eerste Afrikaanse rock-liedjie beskou, wat daartoe gelei het dat Goosen in 1980 ’n hele rockmedley opneem het wat treffers soos “Blommetjie gedenk aan my”, “Byeboerwa” en “Harlekyn” bevat het.

Na vier dekades vertel ons eie liedjieboer nog steeds sy verhale deur musiek en liriek, met nuwe vrystellings wat op sy nuwe 40 jaar-album gaan verskyn.

“Swart Water” vertel die verhaal van die vloek op die plaas Boontjieskraal in die Overberg, naby Caledon, terwyl “Skippietjie Skommelhandel oor die lewe van die trawlers” (trailer)-vissers.  “’n Veer uit die Klein Karoo”, die temalied van die Koos Roets-dokumentêr oor die glansryke destydse verepaleise-tydperk in die KleinKaroo, asook die temalied uit die internasionale rillerfliek The Lullaby/Siembamba van André Frauenstein, gaan op dié album ingesluit wees.

’n Spesiale duet van Goosen saam met ontslape Piet Botha kan ook verwag word.  Die album sluit ook spesiale toonsettings van twee bekende digters se werke in, naamlik “(Gee hom) ’n hemel vol blou akkers” en “Plant vir my ’n boom, André” van Ingrid Jonker en “Ek sal jou ’n leeu gee (Die blinde is onsigbaar en Yin uit Lotus)” van Breyten Breytenbach.

Goosen is ’n ikoon en word vereer as liedjieboer wat soveel impak as sanger en liedjieskrywer op die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het.

“Ek sien uit na die volgende veertig jaar,” sê die liedjieboer, “die pad is nog lank en ver…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

Ryno ·

Afrikaanse musiek van daai jare (eintlik internasionale musiek ook) was soveel beter as vandag se …… uhhmm…..”musiek”. Met hier en daar n uitsondering of twee. Sterkte Anton, jy is van die beste.

Danien ·

Ja ou Anton kan nog soos gister onthou toe hy daar in die 70 jare in Vanderbijlpark by die Holiday Inn kom optree het by die battle of the bands. Hy het so wit Mercedes afslaankap gery as ek reg kan onthou. Wat n merkwaardige kunstenaar. Deur moeilikke tye gegaan maar altyd bo uitgekom. Jy bly een van die beste bye boer wa.

Koos ·

Inderdaad ‘n groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf. Ons is geseën om sulkes nog by ons te hê :-)

Africana ·

Is dit nie interessant hoeveel kommentaar en steun daar is onderaan die berig oor Steve Hofmeyr wat homself onttrek het van Afrikaans is Groot in Kaapstad, en hoe min hier is nie?
Ek vat niks weg van Steve nie. Alhoewel sy musiek my glad nie aanstaan nie, het hy ‘n mooi stem en hy is kommersieel baie suksesvol. Dis net vir my hartseer dat ware Afrikaanse kunstenaars soos Anton Goosen en Piet Botha, wat ‘n baie langer en moeiliker pad geloop het so min erkenning, ondersteuning en kom ons wees eerlik finansiele beloning kry uit hulle kuns.
Weereens, smaak verskil en ek gun elkeen sy plekkie in die son. Die baby, bokkie drek met oor en oor herhalende lirieke en wysies wat die meerderheid Afrikaanse musikante pleeg, kan maar net nie kers vashou by die amper digterlike verhale wat iemand soos Anton Goosen en wyle Piet Botha opgetower het nie.
Maar Steve kan honderde duisende verdien vir een konsert, terwyl Piet waarskynlik gemiddeld 200 optredes ‘n jaar gedoen het net om te oorleef. Hy het gekies om nie sy siel uit te verkoop nie, so dit was seker sy eie “skuld”. Maar is dit nie jammer dat jy jou siel moet uitverkoop, om ‘n ordentlike lewe te maak en dat die meerderheid van die verbruikers sulke musiek verkies nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.