LIG-konsert 2023: As ek kan, kan jy!

Prop kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Deur Jan-Adriaan van Rooyen (ook bekend as die sanger Prop)

Twee jaar gelede het ek ‘n droom gehad. Dit was nie sommer enige droom nie. Dit was een van daai wat jou laat wakkerskrik en wonder of dit nou werklikheid was en of jou onderbewussyn jou dinge laat verbeel. Op daardie oggend, êrens in Julie 2021, was ek van slegs een ding seker: Met die snaakse gevoel van vreugde moet ek iets in beweging sit.

Die droom het gehandel oor my oom Hermanus Nicholaas van Rooyen wat kritiek siek was aan Covid, maar die droom het so feestelik gevoel dat ek die vreugde nie kon afskud nie. Aksie. Dit is wat die droom van my verwag het. “Staan op en doen iets,” het die droom duidelik gesê. Maar wat? Ek het besluit ek sal doen wat ek weet ek kan goed doen: Ek sal ‘n lied skryf.

Om ‘n lang storie baie kort te maak: ‘n Uur nadat ek uit my droom wakkergeskrik het, is ek in kennis gestel dat my oom oorlede is. Ek het ‘n uur lank getreur en toe dadelik begin skryf aan die lied genaamd, “Sing Hoop Weerklink”. Dit was binne ‘n uur of wat klaar, maar ek het besef ek moet nog iets meer doen. Ek het Helpende Hand gekontak en die LIG-konsert is gebore.

Die lied het nie net gelei tot die Afrison LIG-Konsert wat nou al die derde agtereenvolgende jaar gehou word nie, dit het ook baie beteken vir my musiekloopbaan, my loopbaan as skrywer en vir die mense wat die pad saam met my stap. Die manier waarop Murray Lubbe die lied vervaardig het, het dit so ‘n feestelike aanslag gegee dat dit ‘n vreugdevolle nalatenskap is. Dit laat mense reg oor die land op hul voete kom by my optredes. Dit help hulle om die verlies van geliefdes te aanvaar en laat hulle saam dans of sokkie en sing. Dit laat mense besef dat die dood nie net oor hartseer gaan nie, maar ook oor die bou aan ‘n toekoms waarop die mense wat nie meer met ons is nie, trots kan wees.

Prop oorhandig die eerste Mathys Roets-toekenning aan Mathys Roets by die LIG-konsert in 2022. (Foto: Maroela Media)

Nou waarheen nou? Wel, kom ons delf so ‘n bietjie dieper in die geskiedenis sodat ons kan weet waar ons vandaan kom en waarheen ons werklik op pad is. Ek het meer as twee dekades gelede al aan my loopbaan as jong skrywer en musikant begin werk. Nooit sou ek kon raai hoeveel water in die see sou moes loop voordat ek my merk kon maak nie. Kwaaitjie kom nie net van gister af nie, my mense. Ek self moes eers baie dinge in my eie lewe as persoon met ‘n gestremdheid aanvaar, en ek moes ook dinge leer wat ‘n mens nie kan leer sonder om dit eerstehands te ervaar nie. “Tyd” is die sleutelwoord tot hierdie rypwording van my loopbaan. Dit was nodig, maar soms moeilik om te aanvaar. Want tyd bring kennis en ervaring. As jong aspirantmusikant besef ʼn mens nie aldag dat jy eintlik maar baie min weet nie. Dit is waarom my raad aan enige jongmens sal wees om jouself met kennis te bemagtig. Niemand kan dit van jou wegneem nie. Dit was immers eers nadat ek my vyf jaar argitektuurstudies aan die Universiteit van Pretoria afgehandel het, dat ek al hierdie dinge werklik besef het. Daarom probeer ek altyd om ‘n dieper betekenis by my musiek te voeg. Ek voel steeds nie ek is waar ek werklik wil wees nie. Daar woed ‘n konstante soeke na betekenis en kennis in my vandat ek begin studeer het, en ek wil dit met my mense deel.

Daarom is ek verskriklik opgewonde oor wat op 28 Julie 2023 by Sol-Tech gaan gebeur. Om die derde agtereenvolgende jaar met Solidariteit Helpende Hand hande te vat en die Afrison LIG-konsert aan te bied, gee my en ander persone met gestremdhede die geleentheid om ook iets te gee. Ons poog nie net om fondse in te samel sodat mense met gestremdhede kan gaan studeer en hul eie weg uitkerf nie, maar ons skep ook ‘n platvorm om vir mense sonder gestremdhede te wys ons kan. As ons kan, kan enigiemand sonder liggaamlike uitdagings ook.

Dit is ons boodskap: As ek kan, kan jy!

Prop vermaak die gehoor by Helpende Hand se LIG-konsert in 2022. (Foto: Maroela Media)

Ons poog dus om mense met gestremdhede met kennis te bemagtig deur hulle met beurse uit die LIG-studiefonds te help nie (LIG staan vir Liefde in Gestremdheid), en ook om die wil en moed in hulle wakker te maak. Ons mense moet besef ons kom al ‘n lang pad, maar ons storie is nog lank nie klaar geskryf nie. Dit is wat lewe is, my mense: Om elke dag op te staan met die wete dat daar ‘n verskil is om te maak. Dít is wat saak maak. Dit is waarom ek nie kan wag vir die Afrison LIG-konsert op 28 Julie nie. Ek hoop om daardie aand sommer baie mense daar te sien. Ek, Vernon Barnard en Drie van die Bestes gaan julle vermaak en Sorina Bosman gaan ons seremoniemeester wees.

Kaartjies beloop R250 per volwassene en R125 per kind onder 12. Jy kan ook ‘n tafel van agt persone vir slegs R1 920 bespreek wat aandete en verversings insluit. Koop jou kaartjies nou by ITickets of besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting. Kom wees deel van hierdie uitsonderlike hoopsaai-geleentheid!

  • Ons bedank vanjaar se borge: Afrison, die hoofborg, en Maroela Media, ons mediavennoot vir die konsert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.