‘Lisa se klavier’ kry gestalte op verhoog

Ná haar egskeiding en die verlies van haar geliefde vleuelklavier, ʼn erfstuk van haar ouma, bevind Lisa haarself in Pretoria op pad na Nederland weens uitgerekte inperkingsregulasies.

Sy reageer op ’n advertensie vir ’n klawerbordspeler by ’n plaaslike kroeg wat voorberei om met lewendige musiek weer oop te maak ná die Covid-pandemie.

Dit is hoe die verhaal van die nuwe musiekblyspel, Lisa se klavier, begin. Die blyspel is in November in die Staatsteater in Pretoria te sien.

Marlee van der Merwe, Altus Theart, Liza Nel en Neels Clasen is eersdaags in dié mini-musiekblyspel, getiteld Lisa se klavier, te sien.

Die eens rebelse rocker, vertolk deur Altus Theart, is nou rigtingloos en verveeld terwyl ʼn jong kelnerin, gespeel deur Liza Nel, van roem in die musiekbedryf droom. Clasen is die lewenswyse kroegman.

Wanneer Lisa (Marlee van der Merwe) by die orkes se repetisies aansluit, is sy verbaas om te ontdek die hoofsanger van die groep is Wolf, haar voormalige kêrel uit haar universiteitsdae.

Hulle herontmoeting ontlont allerhande emosies en hul gedeelde liefde vir musiek skep die moontlikheid van ’n tweede kans op liefde. Ou wonde word egter weer oopgekrap, maar Lisa besluit om tog by die openingsaand op te tree.

’n Liefde vir goeie musiek word vervleg met vriendskap en komedie, verlies en hoop. Die storie word vertel deur ikoniese Afrikaanse treffers van Koos Kombuis, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Stef Bos en Johannes Kerkorrel, asook dié van nuwer kunstenaars soos Spoegwolf, Tasché, Dewald Wasserfall, Elandré en Twee.

Met ’n lewendige orkes, lei maestro, Johan Kelber, die musikale produksie.

Lisa se klavier is vanaf Vrydag 3 November tot Sondag 12 November in die Staatsteater in Pretoria te sien.

Kaartjies kos tussen R230 en R300 en is beskikbaar by Webtickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.