Lizz Meiring: Woorde is my musiek

Lizz Meiring

Lizz Meiring is vanjaar 30 jaar in die bedryf en om dit te vier hou sy ʼn Teater Ekstravaganza ten bate van die Teaterbystandsfonds (TBF).  Ons het met haar gesels oor loopbaanhoogtepunte, haar ontmoeting met Uys Krige en Afrikaanse gunstelinge.

Wat was tot dusver vir jou ʼn hoogtepunt in jou loopbaan?
Wel daar is baie. Kom ek deel eers ʼn oorkoepelende hoogtepunt en dít bedoel ek uit my hart uit: die kreatiewe talent in elke veld in hierdie land is verbysterend! Ek werk oor die hele wêreld; ek is baie betrokke by die visuele kunste, by nuwe vorms van ontwerp soos industriële ontwerp, modeontwerp, ensovoorts en ons hoef vir niks en niemand terug te staan nie. Eer daai kinders in jou huis wat sê ‘Ek wil ʼn kunstenaar word’, want dit kán ʼn suksesvolle loopbaan wees. Dit is ʼn Godgegewe talent! Help hulle om dit uit te leef, want ons kan.

Ek het onlangs Chris Diedericks se kunsuitstalling geopen. Nou dit is ʼn man wat die grootste kunstoekenning in die wêreld, die Ampersand-beurs, gekry het. Jy kan nie daarvoor aansoek doen of daarvoor inskryf nie. Hy het dit al nege keer gewen. Toe ek sy uitstalling open, het ek na daai werk gekyk en gedink hoe verbysterend mooi dit is, hoe inspirerend dit is: dít is elke keer vir my ʼn hoogtepunt. Ek is bietjie soos ʼn vampier: ek voer op die kreatiewe talent van ander mense. Ek is nooit bedreig of jaloers daardeur nie, dit inspireer my regtig.

Loopbaanhoogtepunte: Ons is nou al drie jaar besig met ‘My naam is Ellen Pakkies’, wat ek geskryf het en die regie behartig het. Almal het vir my gesê ‘Lizz moenie hierdie produksie doen nie, niemand gaan dit kom kyk nie.’ Ons is nou genooi Nederland toe en die Amerikaners wil dit ook sien. Dit is letterlik drie jaar en ek kry elke dag nog versoeke vir die produksie. Dit is iets wat ons nie met een sent gedoen het nie, op ons eie: ek, Christo Davids, Vinette Ebrahim, en ons produksiebestuurder, Theresa du Preez.  Coenie de Villiers was so dierbaar om vir ons die musiek te skep daarvoor en so het ons oop hande van alle kante gekry.  Die grootste ding hiervan is dat ʼn gedeelte van die loket van elke enkele kaartjie na Ellen gaan wat saam met drie ander vrouens in die gevaarlikste areas werk om tikverslawing te bekamp. Tik is baie erg, want tik vernietig die frontale lobbe van die brein wat die oorsaak en gevolg van morele gedrag beïnvloed, baie erger as enige ander dwelm. Ons het nou al nege mense wat vir jare lank verslaaf was aan tik wat vir ons gesê het vandat hulle die produksie gesien het, het hulle nog nooit weer [tik] gebruik nie.  En ek wil nie sê dat ʼn produksie dit nie kan doen nie, want ek is nie ʼn maatskaplike werker nie.  Ek is net die boodskapper, ek is nie die sendeling nie.  En dat mense by jou kom en vir jou sê “Ek verstaan nou hoekom my man, my vrou, my kind selfmoord gepleeg het: verslawing.  Die stuk gaan oor vergifnis: van die self en van ander en vra die vraag ‘Kan ʼn mens van voor begin?’ Om die impak van daai produksie op mense te sien, maak jou nederig.

Ook het ek die voorreg gehad om van baie jongs af saam met Pieter-Dirk Uys te werk oor die hele wêreld: in Europa, in Skandinawië en by die Edinburgh-fees. Tussen die twee van ons speel ons 20 rolle elke aand. En elke aand verander dit afhangend van wat gebeur in wêreldnuus. Daar is mense wat dink Pieter kritiseer net almal. Hy is die grootste patriot wat hierdie land kan hê, want hy staan in die buiteland en hy sê vir hulle: ‘Julle wys vinger na ons, kom ons kyk bietjie wat in julle eie omgewings en agterplase gebeur.”  Pieter was die man wat vir my gesê het, ‘Ek gee nie om hoeveel werk jy as aktrise het wat vir jou gegee word nie; ek gaan jou leer om jou eie werk te skep, sodat jy nie net onafhanklik kan wees nie, maar dat jy keuses kan maak en dat jy ander kan help’. So my werk saam met hom is altyd vir my ʼn hoogtepunt.

Wat is die grootste les wat jy geleer het in die bedryf?
Dat ʼn mens die hele tyd jou grense moet verskuif. Ek dink ek is maar net ʼn adrenalienverslaafde. Ek wil met my tone op daai kreatiewe afgrond staan. Ek sal my werk doen en ek is absoluut neuroties en perfeksionisties, maar ek hou daarvan om kanse te waag met nuwe goed. Ek glo dit brei nie net my grense uit nie, dit brei ook gehore se grense uit.

Die ander baie belangrike ding wat ek baie duidelik wil stel, en dit is veral van toepassing op Afrikaanse gehore: ek het nog nooit met my werk en produksies ʼn gehoor onderskat nie, ek glo nie daarin in nie. Ek is moeg vir hierdie tone-in-die-stof platvloersheid. Ek is moeg daarvoor, dit is ʼn cliché, dit is nie waar nie. Daar is soveel meer en soveel interessanter stories om te vertel in ons land.

As jy jou oë in die oggende oopmaak, wat is die eerste ding wat jy doen?
Die eerste ding wat ek doen is ek probeer om ʼn enorme, groot, vet, pof kat, van my afskuif wat bo-op my kom lê met sy snoet en sy snorbaarde in my gesig en my boelie om vir hom kos te gee. Jy weet mos watter terroriste hulle kan wees . En dan hardloop ek in my tuin in. Ek kom uit ʼn gesondheidsbewuste huis en my oorlede pa was ook ʼn homeopaat en naturopaat. Ek glo, soos Deepak Chopra, die bekende gesondheidsghuru, sê: as jy met soveel adrenalien werk en as jou kop die hele tyd besig is en alles is werk wat jy skep uit jou verbeelding, moet jy jouself ‘aard’. So ek gaan staan met my kaal voete op die grasperk, of dit nou winter of somer is, en dan sê ek vir myself “Lizz fokus, fokus nou net, jy het vier miljoen goed.” Kyk, ek werk nooit aan minder as ses produksies tegelyk nie, maar dit is nie oulik nie, dit is ADD. Ek kan dit klaar maak en ek moet dit klaar maak: ek is baie resultaat-gedrewe, maar ek moet, amper soos ʼn ouer, vir myself sê, “Staan nou net vir twee minute stil en dan gaan jy nou in jou kop deur alles wat jy vandag moet doen. Daai gedagte moet jy nou net eers opsy skuif, laat ons nou net eers met dié een werk.”

Watter raad sal jy aan jongmense in die kunstebedryf gee?
As iets jou hartstog is ([en ek gebruik die woord hartstog, want passie kom van die Latynse woord vir lyding), dan moet jy weet dit is hoe jy bedraad is, dít is ʼn belangrike lewensles. Ons elkeen se DNS is anders en jy moet leef soos jy bedraad is en nie teen jou bedrading nie. As jy leef teen jou bedrading gaan jy sielkundige probleme hê en jy kan depressief raak. Jy gaan fisies siek wees, want jy leef teen jou bedrading. Dit is ʼn suiwer biologiese feit. As dit jou bedrading is dan moet jy weet, dít is die paadjie wat jy moet volg, maar dit gaan nie in jou skoot val nie. Jy moet hard werk, jy moet dink soos ʼn entrepreneur. Jy moet moeite doen, jy moet vrygewig wees met jou talente en jy moet ʼn oopkop hê om te luister en te absorbeer en te skep. Gehore, kykers, lesers, die mense wat na jou uitstallings toe kom, as jy hulle respekteer, is dit soos ʼn spieël wat jy reflekteer – hulle sal jou respekteer.  Moenie dink jy gaan met halfgebakte werk en ‘af-pratery’ gehore, lesers of kykers behou nie. Respekteer hulle!

Wat is jou gunsteling fliek?
Woman Times Seven’ is ʼn rolprent wat gemaak is in die sestigs deur ʼn Italiaanse regisseur, Vittoria de Sica. Dit was die eerste rolprent waarin Shirley Mclaine gespeel het [waar sy sewe rolle speel].

Dan is daar ‘A Dream of Passion’. Dit gaan oor ʼn Griekse aktrise wat Medea, die bekende karakter uit die Griekse mitologie, moet speel in Griekeland. Sy was jare lank ʼn Hollywood-ster, so sy het bietjie haar wortels verloor van waaroor dit gaan dié bedryf.  Dan word sy voorgestel aan ʼn moderne vrou wat in die tronk is in Griekeland omdat sy haar kinders vermoor het en wat die werklike impak daarvan is.

Daar is ook ʼn ongelooflike Japannese komedie (duidelik met onderskrifte want my Japannees is nou nie so goed nie!), ‘Welcome Back, Mr. McDonald’. Dit is ʼn vreeslike, mooi, slim en fyn komedie oor tegnologie versus kreatiwiteit; die tyd toe mense nog klankeffekte geskep het uit byvoorbeeld ʼn pyp wat waai. Dit gaan oor die fyn lyn tussen wat goed is van tegnologie en wat nie goed is nie. Wat het van ons kreatiwiteit geword in ʼn wêreld waar alles vinnig gedoen moet word?

Wie of wat is jou gunsteling Afrikaanse woord?
Daar is baie, want ek is verlief op woorde. Woorde is my musiek; dit is vir my soos ʼn ritme, soos ʼn simfonie. Ek hou van die woord ‘hartstog’. Afrikaans is mos so ongelooflike emosionele taal. Hartstog! Sê dit, dit sê so lekker. Daardie ‘o’ en ‘g’ maak vir my sin.

Wie of wat is jou gunsteling Afrikaanse boek of skrywer?
Een van die mense wat vir my al jare uitstaan is Uys Krige. Ek het in Pretoria grootgeword en in die omgewing waar ek gebly het, was dit veilig. Jy stap ʼn paar blokke kafee toe in die middel van die dag sonder enige probleem. Telkemale as ek in die straat gestap het, was daar ʼn ouerige oom wat ewe skielik, soos ʼn pyl uit ʼn boog, by ʼn hekkie uitgeskiet het.  Hy was baie sterk gebou, korterig en hy het vinnig gepraat. So het hy saam met my gestap en daar was niks sinister daaraan nie. Dan het  hy met my gepraat oor Franko, stiergevegte, Spanje, Italië en Ernst Hemingway. Ek was ʼn kind, maar ek het die indruk gekry hy dat hy besig was met ʼn interne monoloog en as iemand bykom dan word dit net geverbaliseer. En soos ons stap het hy vir my gedigte voorgedra.

Terwyl ek in die kafee was dan het hy buite gewag en dan stap hy weer saam met my terug tot by die hek, maar hy praat met my soos ʼn grootmens.

Eendag toe sê ek vir my ma daar is hierdie oom wat, elke keer as ek daar om stap, stap hy saam en vertel vir my al hierdie ongelooflike stories en al hierdie mense wat hy ontmoet het. Jy weet, ʼn ma is natuurlik dadelik bekommerd en wonder wie is hierdie man wat saam met my kind stap?! Soos ek haar vertel waaroor hy praat [en nou het ek al frases uit sy gedigte onthou], vat sy my na die boekrak toe en sê “My kind, weet jy hoe bevoorreg is jy? Weet jy wie is die man? Dit is Uys Krige.” Sy dogter het in die straat gebly en elke nou en dan het hy by haar kom kuier en ek wens dat ek nou kon onthou wat hy alles vir my vertel het.  Hy was so ʼn groot gees met so wye alfabet. Ek dink alle kinders waardeer dit as daar met hulle gepraat word as intelligente wesens.

Wie of wat is jou gunsteling liedjie of musikant?
Ek is ʼn groot bewonderaar van regte Tango-musiek. Daar is ʼn Argentynse komponis met die naam Ástor Piazzolla en sy musiek is verbysterend mooi en inspireer my.

Dan is daar nog iemand en hy is ʼn pêl, maar lank voor hy ʼn pêl was, was ek ʼn groot bewonderaar van sy musiek, want ek dink hy is ʼn ongelooflike liriekskrywer en ʼn ongelooflike mens wat elke keer vernuwend werk en dit is Coenie [de Villiers]. Ek het net vir hom gesê, soos ek vir baie gesê het, en hy het al lankal daarvan wegbeweeg: ek is mal oor die Karoo, die Karoo is pragtig, maar kán ons nou asseblief aanbeweeg! Ek is nou moeg vir liedjies oor die Karoo, ek is nou moeg vir rolprente oor die Karoo! Daar pragtige ander plekke in die land: Die Natal Midlands en daar is pragtige stedelike plekke! As ek nou nog een ding oor die Karoo moet hoor gaan ek mal word [lag].

Het jy ʼn stokperdjie waarvan niemand weet nie?
[sug] Ek is nie goed met stokperdjies nie, want ek is ʼn werkolis.  Ek reis baie graag. Ek skat my stokperdjie, en dit is ʼn skande, want dit is iets waarvoor ek eintlik moet tyd maak en iets wat ek hartstoglik voor lief is, en dit is lees. Ek dink as ek eendag ʼn stokperdjie sou kon hê en die geduld sou kon hê: ek sien sulke mooi mosaïekwerk, maar ek ken myself en ek gaan dit nie voltooi nie. Ek gaan onmiddellik dink “O nee, ek wil hierdie drama skryf!” of “Ek wil hierdie boek doen “ [Lag].

Luister gerus na Allegaartjie 73 waar ons met Lizz gesels oor die Teater Ekstravaganza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae