Luister: Abel Knobel sing nóú sy eie deuntjie

Abel Knobel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Abel Knobel was eers te sien in die musiekgroep NRG en ook in The Voice SA, maar nóú het dié blondekopsanger sy eerste rol in die sepie 7de Laan losgeslaan én sy eie stem gekry met sy eerste solo-album genaamd Refleksies.

Knobel sê dit is vir hom uitdagend, maar bevredigend om alleen op die verhoog te staan.

“Met NRG het ek glad nie geweet wie ek as mens is nie en ek het ook nie geweet watter soort musiek ek wou sing nie. Dit was ʼn goeie ervaring en meer kommersieel, baie meer pop, as wat ek nou sing.”

“Ek dink met NRG het ek besef ek wil eendag solo sing, maar ek was nog nie reg gewees nie. Dit het my geleer watter tipe musiek ek nié wil maak nie en watter musiek ek graag wíl maak,” sê hy.

Knobel meen die Here laat ʼn mens sekere ervarings beleef sodat jy tyd het om jouself te leer ken. Hy is nou op ʼn plek in sy lewe waar hy dolgelukkig is met die musiek wat hy maak.

“Nou is ek alleen op ʼn verhoog en dit is maar bietjie vreemd, maar ek is mal daaroor, want ek het al my eie musiek geskryf, ek sing nie ander mense se liedjies nie. Ek is so gelukkig, want ek weet ek maak musiek wat met my praat en wat ʼn verskil in ander mense se lewens maak.”

Knobel beskryf Refleksies as ʼn volwasse kontemporêre album wat wys hoe hy deur die jare gegroei het. Die album het lank gevat om te maak, omdat Knobel ʼn passie het vir lewendige musiek en baie daarvan op die album wou byvoeg.

Knobel het saam met sy vervaardiger, Sean Butler, al die liedjies self geskryf. Hulle sê die liedjies kom uit hul harte uit.

“Dis definitief ʼn album wat vir my persoonlik is, en ek vertel persoonlike stories van my lewe. Ek reflekteer terug na verskillende situasies en emosies en dis hoekom die album se naam Refleksies is.”

Knobel sê dit is vir hom lekker om mense met sy musiek aan te raak en om vir hulle hoop te gee.

“Die nuwe album het verskeie liedjies van hoop. Daar is baie inspirerende liedjies en ek dink mense, jonk en oud, gaan dit geniet want daar is verskillende klanke op.”

Knobel het ook onlangs sy lyf akteur gehou as die psigopaat Gerben Brummer in die sepie 7de Laan. Dit is die eerste keer dat Knobel ʼn rol as akteur kry, en hy sê hy sal dit graag meer wil doen in die toekoms.

“Ek het nog altyd ʼn passie vir toneelspel gehad. Ek het net nooit soveel aandag daaraan gegee soos ek vir musiek gee nie,” sê hy.

Abel het vanjaar besluit dat hy al sy fokus op sy musiekloopbaan gaan plaas, toe die 7de Laan-oudisie oor sy pad kom. “Dis mos hoe die lewe werk, net as jy ophou probeer, gebeur dit,” sê hy.

“Ek kon dit nie glo nie, ek was perfek vir die rol wat hulle gesoek het. Ek moes ʼn psigopaat speel, en die karakter was vir ʼn maand lank in die sepie. Dit was die beste ervaring wat ek nog gehad het in terme van ʼn droom wat waar geword het,” vertel hy.

Knobel het reeds een musiekvideo, vir die liedjie “Die wildernis”, wat op vir Refleksies te hore is, bekendgestel en hoop om nog een teen Desember vanjaar klaar te hê.

Hy sê hy hoop mense kan hulself vereenselwig met sy lirieke en melodieë, en dat dit hulle in hul eie konteks kan help. “Ek wil hê mense moet met hul eie stories en hul eie verledes vrede maak as hulle hierna luister, want dit is basies my stories en wat ek daaruit geleer het,” sê hy.

Refleksies is op alle digitale platforms en in musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Morne ·

Jy het jou rol in 7de Laan briljant vertolk. Hoop ons sien jou gou weer in nog n rol

Ruan ·

Daar was niks vout met sy acting nie. Hy het by sy rol gepas. Jy mag maar nog.

WIEBO ·

Abel, jy het jou rol in 7e Laan fantasties vertolk. Hoop en glo jou akteurs loopbaan het begin!!!!

Sonja Alberts ·

Abel jy sing absoluut stunning mal oor joumusiek!!!!

Tens ·

Abeltjie

Hierdie album is so jy!! ek voel dit in elke liewe song!! jy het jou hart en siel hierin gesit!! mag dit vir jou deure oopmaak wat so groot is!! sterkte met die journey ek is so dankbaar om deel te kan wees hiervan!!

hoop elke liewe persoon koop jou Album, koop sommer 2!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.