[Luister] Blou Hond se baas vind weer liefde

philip_blog

Philip Moolman. Foto: via www.philipmoolman.co.za

Die Blou Hond-teater se naam was aanvanklik ʼn grappie, sê Philip Moolman, eienaar van dié teater in Pretoria. “Dit kon netsowel die Pienk Kat of die Pers Kameel gewees het,” skerts hy. “Dertien jaar gelede het ons name rondgegooi en die Blou Hond het by ons vasgesteek.”

Philip vertel die Blou Hond het begin as ʼn gewilde huisteater-restaurant in 2002 in ʼn woonhuis in Linden, Johannesburg. In 2013 het die teater hom by Casa Toscana in Pretoria ingeburger. Groot name soos Chris Chameleon, Karen Zoid, Bobby van Jaarsveld en Coenie de Villiers het al op dié bekende verhoog opgetree.

“David Kramer, Laurika Rauch en Nataniël is ʼn paar groot name wat ek nog graag by die Blou Hond sal wil ontvang,” lag Philip.

“Ek is nie ʼn sakeman nie,” sê Philip. “Ek dink die teater se sukses tot dusver is te danke aan die wonderlike kunstenaars wat al daar kom sing het, en die teatergangers is mal oor die intimiteit van die teater. Ons het iets reg gedoen wat die toets van die tyd kon deurstaan, en daarvoor is ek dankbaar,” sê hy.

Musiekblyspele

Philip dra verskeie hoede in die vermaaklikheidsbedryf en het destyds bekendheid verwerf as Neil Macdonald in die televisie-reeks Sonkring, wat vanjaar sy 25ste herdenking vier. Hy hou gereeld sy lyf akteur op die verhoog en het onlangs in musiekblyspele soos Ons vir jou, Liefling, Droomkind – die storie van Josef en Ester gespeel. “Ek is mal daaroor. Dit voel vir my soos speel, want dit kombineer toneelspel en sang waarvoor ek albei baie lief is,” vertel hy.

Buiten sy rolle op die verhoog speel hy gereeld in e.tv se Rhythm City as polisieman en later vanjaar verskyn hy ook in die rolprent Snaaks genoeg as reeksmoordenaar teenoor Casper de Vries, Soli Philander en Sandra Prinsloo. “Dit klink rof, maar dit is ʼn grappige affêre,” sê hy. “Ek speel ook een van die dae die hoofrol in ʼn rolprent oor die weermag.”

En musiek? “Elke jaar sê ek voor Krismis wil ek ʼn album uitreik en ek hoop dié jaar sal ek kan tyd maak daarvoor,” sê Philip hoopvol.

Ontspanning

Philip skerts dat hoewel hy nou 51 jaar oud is, hy nog jonk van gees voel. “As mense vir my vra hoekom ek nog boom klim, dan vra ek ‘hoekom nie?’,” lag hy. “Hulle sê mos jy hou nie op speel as jy oud raak nie, jy raak oud as jy ophou speel! My gunsteling-ontspanningstokperdjie is vlerksweef (paragliding). Ek het so drie jaar gelede daarmee begin en dit is vet pret!”

Dit is ook ʼn voorliefde wat hy deel met sy verloofde, Lurianne. “Ja, toe knak ek die knieg!” skerts hy. “Die oomblik was baie unglamorous. Toe die oomblik reg is, toe vra ek die groot vraag sommer net daar in die kombuis, langs die toaster op die koue teëlvloer,” vertel Philip trots. “Ek het my maat gevind en die tydsberekening was net perfek.” Philip en die aktrise en skrywer Susan Coetzer is in 2012 geskei.

Familie

“My oorlede pa was ʼn NG dominee en hy het die gewoonte gehad om altyd sy eie Bybelversies op te maak as hy ons wou opbeur,” vertel Philip. “Ek kan onthou hoe ek as laerskoolseun byvoorbeeld ná ʼn krieketwedstryd wat ons verloor het dikbek by die huis gekom het, dan het my pa vir my gesê: “Philip, Moses 5 vers 3 sê moenie worry nie, alles sal regkom”, of “Nebukadneser 11 vers 86 sê gaan help jou ma met die skottelgoed’,” lag hy.

Philip Moolman vertel meer oor die Blou Hond en sy verlowing – en sing sommer vir jou ʼn bonusliedjie ook!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.