Luister: Borrelende nuweling klink ’n glasie op die lewe

Anya Swart.

Die borrelende blondekop-sangeres Anya Swart is ʼn nuweling in die Afrikaanse musieklandskap. Sy het onlangs gedebuteer met die enkelsnit “Champagne shooters”, en dié snit kry groot aftrek – veral onder luisteraars wat daarvan hou om litte los te maak.

Die 25-jarige liedjieskrywer fokus op haar eie lewenservarings en sê in die Maroela Media-ateljee sy het “Champagne shooters” oor ʼn liefdesteleurstelling geskryf.

“Die eerste keer wanneer jy na die liedjie luister, sal jy dink dit is net borrelgom met oppervlakkige lirieke, maar die liedjie het eintlik ʼn dieper betekenis oor hoe elkeen verantwoordelik is vir sy eie geluk in die lewe,” verduidelik Anya.

Sy het dié liedjie saam met Hugo Ludik van Muse Studios geskryf. “Ons het besluit op ʼn ritmiese liedjie waarop ʼn mens kan kuier en dans juis omdat ons voel jy moet die teleurstellings in die lewe kan vier.”

Anya vertel sy het dit baie geniet om saam met Hugo te werk. “Dit is verskriklik lekker om daar te werk, want enige idee wat jy het word gebruik. Dit is vars en daar is baie idees.”

Die musiekvideo vir “Champagne shooters” is by die yskaatsbaan van The Grove Mall in Pretoria geskiet. Ruan Wessels, die akteur van Hoofmeisie- en Jou Romeo-faam, vertolk die hoofrol.

“Die konsep van die video behels basies ʼn meisie wat besluit om die beste aand van haar lewe saam met haar vriendinne te hê nadat ʼn ou oor wie sy mal is nie opgedaag het vir ʼn beloofde kuier nie,” verduidelik Anya.

Anya Swart.

Sy studeer tans foto- en videografie aan die Noordwes-Universiteit en het reeds haar graad in sielkunde en arbeidsverhoudinge verwerf.

“Ons het die musiekvideo in die aand geskiet, so daar was niemand anders behalwe ons span op die skaatsbaan nie. Dit was werklik ʼn prettige ervaring.”

Anya, wat in die Jakarandastad gebore en getoë is, sê sy het as kind begin sing en musiek speel nog altyd ʼn groot rol in haar lewe.

“Daar is vir my niks lekkerder as wanneer iemand na afloop van ʼn vertoning vir my kom sê my stem of my musiek het ʼn gevoel by hulle gewek nie. Ek wil graag deur musiek vir mense iets gee om aan vas te hou en veral as jong Afrikaners moet ons vir ons jeug iets gee om te geniet en ons stempel afdruk,” sê sy.

As kind was sy egter baie skaam en teruggetrokke en sy altyd aan haarself gedink as die “stil” een. “Musiek het my die platform gebied om myself uit te leef en uit my dop te laat klim. Ek het nog altyd geglo ’n kunstenaar moet iemand wees wat iets het om te deel.

“As ek sing, wil ek stories vertel. Stories wat vir my belangrik is en waarmee mense hulle kan vereenselwig. Ek was nooit goed daarmee gewees nie, maar ek het geoefen en geoefen en geoefen.”

Anya is deel van die Coleske Artists-familie. (Foto: Facebook/Anya Swart)

Sy vertel dat “Champagne shooters” reeds aan die begin van 2020 voltooi is, maar dat sy weens die pandemie besluit het om die uitreiking van die liedjie eers terug te hou. Sy het intussen deel geraak van die Coleske Artists-familie.

“Dit is so ’n voorreg om deel te wees van dié groep – waar beter kan ʼn mens wees om jou drome te bewaarheid?”

“Champagne shooters” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Anya Swart in die Maroela Media-ateljee.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.