Luister: Chereé terug met solo-album ná dekade se stilte

Chereé. (Foto: Willem Botha)

Chereé. (Foto: Willem Botha)

Die donkerkopsangeres Chereé se smeulende, solo-country-stem was vir bykans tien jaar stil terwyl sy haar en haar man, die sanger Wynand Strydom, se dogtertjies grootgemaak het, maar nou is sy terug met ʼn splinternuwe solo-album getiteld Wilde waters.

Só vertel sy in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media. “Enige mamma sal weet jy verloor so ʼn bietjie van jouself aan die begin [van ouerskap],” sê Chereé, wat onlangs 40 geword het.

Sy vertel sy het in 2010, twee weke ná haar troue met Wynand, swanger geraak met haar oudste dogter, Taylor-Hope (8), en ʼn paar jaar later is haar tweede dogter, Bella-Joy (6), gebore.

“Baie aandag gaan in die kinders in. My kinders is nou agt en ses jaar oud en ek het gevoel ek is nou weer reg vir ʼn solo-album. Ek en Wynand het intussen ʼn paar country-albums saam uitgebring. Ek het egter in 2009 vir die laaste keer ʼn kommersiële solo-album uitgebring, so hierdie is vir my baie opwindend,” sê sy.

Daar is 13 snitte in die album en sy verklap dat die eerste enkelsnit, “Praat” wat in April vanjaar die klankgolwe op radiostasies landwyd getref het, haar gunsteling-snit in die album is. Dié snit is ook die eerste Afrikaanse snit uit haar eie pen.

Sy vertel die liedjie is geïnspireer deur ʼn baie persoonlike gebeurtenis. “ʼn Vriendin het eenkeer vir my ʼn brief getik oor alles wat ek verkeerd doen in ons verhouding. Sy het langs my gesit terwyl ek dit lees en, hoewel ek dankbaar was oor haar eerlikheid, was ek kwaad omdat sy nooit met my oor hierdie probleme gepraat het nie. Op pad huis toe het die idee vir ‘Praat’ ontstaan en teen die tyd dat ek by die huis gekom het, was die lirieke byna klaar geskryf.

Chereé. (Foto: Willem Botha)

Chereé. (Foto: Willem Botha)

“Toe ek terugsit en weer na die woorde luister, het ek besef dit is iets wat ek vir my eie dogtertjies, vir my man, my familie en vriende wil sê. Mense dink hulle is alleen, maar hulle vergeet as hulle net met een persoon praat voel jy al klaar ligter. Ek glo ook in die krag van gebed en dit is nog ʼn ding – as jy dink jy is alleen, jy is eintlik nooit, ooit alleen nie,” sê sy.

Twaalf uit die 13 snitte in die album is oorspronklike liedjies en sy sê dat sy mal is oor elke liedjie in die album. “Elke snit het ʼn baie spesiale plek in my hart en daar is fantastiese liedjieskrywers wat hulle ‘babas’ vir my gegee het en my vertrou het met hulle liedjies.”

Die titelsnit, “Wilde waters”, is deur Rudi Claase geskryf. Hugo Ludik, Vaughan en Nerine Gardiner en Roux Cloete het ook aan die album geskryf. Tony Ridgeway het ʼn duet geskryf getiteld “Hierdie hart van my” wat Chereé saam met Wynand vir dié album opgeneem het.

“Dit is vir my altyd lekker om saam met Wynand op te neem. Behalwe dat ons getroud en beste maats is, dink ek ook hy het ʼn ongelooflike stem. Die liedjie is baie spesiaal en dit is amper soos ʼn opvolg op ons liedjie ‘Dit is ons lewe’. Die liedjie het bietjie meer van ʼn pop-aanslag as wat Wynand van hou, maar ek het hom gedwing om die liedjie te sing. Nou is dit een van ons gunstelinge om saam te sing,” lag sy.

Sy gee toe dat sy aanvanklik nie by die titelsnit, “Wilde waters”, kon aanklank vind nie omdat sy en Wynand op ʼn goeie plek in hulle verhouding is. Dit was eers toe sy die musiekvideo vir die liedjie saam met die gewilde vervaardiger Christian Wolf geskiet het, dat die liedjie vir haar begin sin maak het.

“Die liedjie gaan oor mense wat verlief is en wat so hard werk aan ʼn verhouding, maar partykeer moet jy groot genoeg wees om te sê dit gaan nie werk nie. Jy kan wegstap en nog steeds vriende wees. Christian het dit so mooi saamgevat – die gevoel van twee mense wat sukkel om by mekaar te wees en op die ou einde is hulle ook nie meer saam nie, maar dit is oukei.”

Dit was die eerste keer dat Chereé gewerk het saam met dié bekroonde musiekvideovervaardiger, wat verantwoordelik was vir video’s soos Demi Lee Moore se “Mis, eet, slaap, herhaal”, asook “Elektrisiteit” deur Dewald Wasserfall en “Die land” deur Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Jay du Plessis en Ruhan du Toit.

“Ons het geskiet op Fort Klapperkop in Pretoria en dit is regtig vir my ʼn besonderse mooi video. Wat in Christian se brein aangaan is net wow,” sê Chereé.

Wilde waters is op alle digitale platforms asook in toonaangewende musiekwinkels beskikbaar vir aankope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Zettie ·

Jene, maar die vrou is pragtig en sy sing ook net so pragtig. Ek is mal vir haar musiek!!! Hou so aan.

PJN ·

Hierdie vrou raak net al hoe mooier en mooier. Sy het ‘n pragtige borrelende persoonlikheid ook.

Hannetjie ·

Die lied is pragtig en jy lyk absoluut stunning.Rudi Claase mag maar skryf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.