Luister: Christiaan Baartman – Selfde passie, nuwe asem

Christiaan Baartman. (Foto: Verskaf)

Sommige kan dalk onder die indruk wees dat Christiaan Baartman sy eerste verskyning op die Suid-Afrikaanse musiektoneel gemaak het toe hy vroeër vanjaar beoordelaars van The Voice SA met sy weergawe van “Tennessee Whiskey” tydens sy blinde oudisie oorrompel het.

Maar dié rasperstem-musikant is al langer as ʼn dekade professioneel in die musiekbedryf en het begin sing nog voor hy behoorlik kon praat.

“My ma is ʼn musiekonderwyseres, so ek het basies langs die klavier grootgeword terwyl my ma kore afgerig het,” vertel Baartman in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Ek kon eintlik sing voor ek kon praat. Ek het letterlik in die kerkbanke gesit en in my babataal harmoniseer nog voor ek behoorlike sinne kon praat. Musiek is absoluut ʼn ding wat vanaf ʼn vorige generasie deurgetrek is na my toe.”

Soveel as wat die passie vir musiek binne hom gebrand het, het hy ná skool besluit om nie dié onsekere roete te volg nie, maar eerder inligtingstegnologie in die Kaap te gaan studeer. Die Here het egter ander planne gehad.

Baartman meen die manier hoe hy uiteindelik in die musiekbedryf beland het, was te danke aan niks minder as “’n reeks wonderwerke” nie.

“Ek is danksy ʼn wonderwerk gevra om ʼn onderhoud by C-Kruis, wat destyds ʼn uitvoerende kunste-maatskappy was, te gaan doen. Ek was in George, die onderhoud was in Kaapstad, en ons het nie geld gehad vir ʼn kaartjie Kaap toe nie. Maar toe kom die tweede wonderwerk – daar was ʼn koortoer presies op dieselfde naweek as wanneer die onderhoud was, en toe kon ek saamgaan na die onderhoud toe. En toevallig het ek daardie dag af gehad, en ek kon gaan. Daar het ek die werk by C-Kruis gekry –  ek was daar vir ʼn jaar en dit is waar my groot liefde vir uitvoerende kunste ontwikkel het.”

Baartman beskryf homself as eerstens ʼn liedjieskrywer, en tweedens ʼn musikant. Om sy hart in die woorde van ʼn liedjie vas te vang, is die grootste motivering agter sy musiek. “Daar is nie regtig ʼn kultuur van liedjieskryf in Suid-Afrika op professionele vlak nie en dit was altyd my droom om in ʼn vertrek te sit waar ek die swakste liedjieskrywer daar is.”

Hy meen Nashville in Tennessee in die VSA is die saamkomplek van die beste liedjieskrywers ter wêreld en dit is dáár waar hy wou wees, waar hy wou leer en sy vaardighede slyp. “Ek het gespaar en gespaar, kitare verkoop en absoluut alles in my vermoë gedoen om te kon gaan – en ek is Nashville toe.”

Daar het hy betrokke geraak by die Nashville Songwriters Association en uiteindelik die hoof geraak van dié organisasie se Afrika-been. Gereelde besoeke aan Nashville is nou al deel van Baartman se skedule en hy is ten nouste betrokke by liedjieskryfwerkswinkels en -opleiding.

In Nashville leer hy steeds by die beste liedjieskrywers ter wêreld en bring dan dié kennis terug Suid-Afrika toe om hier toe te pas en met ander te deel.

Baartman sê dit is vir hom moeilik om sy styl van musiek presies te definieer, aangesien Suid-Afrikaanse musici se musiek deur so baie style beïnvloed word. Een ding is hy egter oor seker, dit wat hy skryf en sing, is sielsmusiek. “Dit is musiek wat met my resoneer. Vir my gaan dit meer oor die bedoeling van die lied, die storie wat ek probeer vertel, as oor wat die styl van die musiek is. Dit is waarop ek fokus, om bietjie van my waarheid in ʼn storievorm te deel.”

Dit is juis die rede hoekom Baartman pas sy enkelsnit, “Asem”, weer uitgegee het, dié keer in akoestiese formaat. “Asem” was reeds in 2013 deel van Baartman se album, Mal vir jou, maar die jongste weergawe is hoe hy nog altyd dié lied wou vrystel.

“In daardie stadium het [die akoestiese weergawe van] “Asem” nie by die styl van die album gepas nie en die liedjies is in ʼn ander rigting ingestuur. Dit het steeds goed gedoen en dit was ʼn baie suksesvolle lied van my gewees, maar dit was nie hoe ek dit oorspronklik wou doen nie,” verduidelik hy.

“Ek het net besluit ek móét vanjaar my platemaatskappy [Baartman Productions] begin met iets wat eg is aan my en hierdie lied, soos wat hy nóú vrygestel is, is ʼn manier om vir Suid-Afrika te sê, ek is terug en hierdie is my hart.”

Christiaan Baartman het pas ‘n akoestiese weergawe van sy trefferliedjie “Asem” bekendgestel.

Hy vertel “Asem” is geskryf in ʼn moeilike tyd in sy lewe, ʼn tyd wat hy net van die kus af Pretoria toe getrek het en finansieel bitter swaargekry het. In dié tyd was daar nie eens genoeg geld om die rekeninge te betaal nie, wat nog te sê vir ʼn besoek aan die kus sodat hy naby die see kan wees waarvoor hy so lief is.

“In die donker tyd in my lewe, het vriende van my wie se ouers ʼn huis in Jeffreysbaai gehad het, my genooi om in dié huis by die see te gaan uitspan. Toe ek daar aankom, was die huis letterlik op die strand by Jeffreysbaai. Ek het die aand daar aangekom, my kitaar gevat en uitgestap op die strand.

“Ek het begin sing, terwyl die fosfor ingespoel en ʼn groen skynsel in die water gemaak en hierdie asemrowende prentjie voor my geskep het. Daar het ek net hierdie ongelooflike diep liefde vir die Here oor my voel kom en vir Hom gesê, wat ek het, verdien ek nie. Wat ek is, is nie genoeg om u glorie te aanvaar nie.

“Toe sê Hy vir my, wat jy sien is my siel, my gees en my asem. En al wat ek van jou terugvra, is jou siel, jou gees en jou asem. En toe skryf ek “Asem”. Dié lied was vir my die besef, al wat jy kan gee, is jou siel, jou gees en jou asem. En die res sal die Here voor sorg.”

Diep en treffend, maar tog eenvoudig. En die rede hoekom Baartman doen wat hy doen – om sy hart, sy storie en sy asem te deel.

“Ek wil goeie musiek maak, musiek wat nie noodwendig deur die normale kommersiële kanale gaan nie, maar musiek wat eg is aan my. Kom ons maak net goeie musiek, sonder om miljoene rande te verwag. Musiek wat móói is en gevestig is in wie ek is. Dít is waaroor dit gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Ek het sy optrede by The Bearded Butcher gesien. Wat ‘n persoonlikheid! Hy sing baie goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.