Luister: Franja, Ruan sing oor liefde vir SA

Ruan Josh en sy suster, Franja du Plessis, se jongste enkelsnit “Net hier bly” is onlangs uitgereik. (Foto: Verskaf)

Amerika, Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Israel en selfs die Seychelle. Dit is net ʼn handjievol van die plekke waar die musikale sibbe Franja du Plessis en Ruan Josh al die geleentheid gehad het om besoek af te lê en op te tree.

Dié twee Namibies gebore sangers, wat in Suid-Afrika grootgeword het, is dit egter eens dat hulle dit verkies om net hier op tuisbodem te bly.

“Ons het al die voorreg gehad om na soveel verskillende lande te reis, maar daar is werklik net een land soos ons land, Suid-Afrika,” sê Ruan en Franja in Maroela Media se ateljee.

“Ek dink ek en Franja voel dieselfde oor die land en ons taal. Elke keer as ons reis en ons kom terug, besef ons net ons land is pragtig, die weer is ongelooflik, en ons wil regtig net hier bly.”

Hulle splinternuwe enkelsnit, “Net hier bly”, handel juis oor dié tema, en is kenmerkend van die positiewe musiek wat Franja en Ruan gereeld uitreik. Die liedjie is deur Daniel Potgieter geskryf, en Franja en Ruan het hulle eie stempel daarop afgedruk.

“As die liedjie iemand kan inspireer om nuwe moed te skep in die situasies waarin hulle is, dan het ons in ons doel met die liedjie geslaag,” sê Ruan.

Oor die afgelope agt jaar het Ruan en sy singende sussie, Franja, dit reggekry om hul stempel af te druk in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Ruan het al menigte projekte agter die skerms aangepak en Franja is ʼn ghoeroe in die ateljee as dit kom by die vervaardiging van die immergewilde singende Du Plessis-familie se musiek.

“‘Net hier bly’ is ʼn liedjie wat geluister kan word op die langpad of terwyl jy langarm. Of na ʼn lang dag of om ʼn langsame week af te sluit met ʼn braai saam met vriende,” sê Ruan.

Die produksie is behartig deur Franja self. “Ek wou iets skep wat by mense sal vassteek en daarom het ek ekstra tyd bestee om interessante klanke te inkorporeer by die produksie. Ek is besonders trots op die eindresultaat.”

Ruan en Franja werk al vir meer as 18 maande saam aan Ruan se tweede album Wysers wat einde Maart verskyn.

“Dis ʼn voorreg om so ʼn groot projek saam met jou sussie te kan aanpak. Ek dink nie baie mense kry die voorreg om as familie so te kan saamwerk nie en ons verstaan mekaar so goed. Toe ek oorweeg het saam met wie ek ʼn duet wil doen op die album, het my gedagtes wyd gedraai, maar Franja was eintlik die logiese keuse. Ek is dankbaar dat sy ingestem het,” sê Ruan.

Die musiekvideo is in Januarie op die strand van Port Edward aan die Suidkus geskiet. Ruan vertel die weer was baie onguur net voor hulle moes skiet, maar die dag van die verfilming het die weer gedraai.

“Dis asof die son spesiaal net vir ons weer daardie dag geskyn het,” sê die sibbe.

“Net hier bly” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die artikel na die volledige ateljeeonderhoud met Ruan Josh en Franja du Plessis.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Oulike liedjie. Maar dit klink vir my nes die groep Reën se styl hierdie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.