Luister: Hoop is tema van Andriëtte se lewe, loopbaan

“ʼn Mens raak eintlik net dieper met ouderdom. Dit is dalk omdat my lewe voller en dieper geword het, maar ek wil nou sing oor die goed wat my hart raak.”

Só gesels die Kaapse sangeres, Andriëtte Norman, oor hoe haar lewe en loopbaan gegroei het tot die kunstenaar, ma, vrou en mens wie sy vandag is.

Dié 36-jarige blondekop het vroeër vanjaar ʼn nuwe liedjie, “Ek moes dit gesê het”, uitgereik. Die diepheid van dié snit herinner nie net aan van haar vorige liedjies, soos “Sewe oseane” nie, dit is die toonbeeld van die soort musiek wat sy graag wil maak.

“In jou twintigs sing jy maar oor die liefde en die wanneer jou hart gebreek word. Ek was eintlik nog altyd diep, maar ek het net nog dieper geword.”

Hierdie behoefte na diepte en betekenisvolle musiek, vorm deel van die rede waarom sy gretig was om “Ek moes dit gesê het” op te neem en uit te reik.

Rudi Claase, Afrikaanse liedjieskrywer en sanger, het dié liedjie geskryf. “Hy het so ʼn manier om te skryf, met hierdie diep lirieke,” het Andriëtte bygevoeg.

Sy het ook lanklaas ʼn liedjie van hom opgeneem, wat haar aangespoor het om dié een met albei hande aan te gryp.

Die liedjie gaan oor dit wat jy moes gesê het, maar ook nie moes gesê het nie, vertel sy.

“Jy moes ja gesê het vir iets, of dalk nee gesê het vir iets. Miskien is dit iets wat jy bloot nie moes gesê het nie.”

Dié boodskap is universeel, glo Andriëtte. Dit is iets waaraan sy haar loopbaan onomwonde heg, om ʼn waardevolle en betekenisvolle boodskap na buite te stuur.

Wanneer sy van dorp tot dorp, stad tot stad toer, klou sy aan elke ervaring met ʼn aanhanger wat daarmee saam loop. Sy geniet dit terdeë om elke storie oor liefde en hoop wat haar musiek in mense se lewens teweeggebring het, te hoor.

“Die boodskap wat ek wil oordra, is altyd, maar altyd hoop.”

  • Maroela Media het ʼn lekker woordspeletjie met Andriëtte gespeel tydens haar kuiertjie in die Jakarandastad. Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Ek is nie ‘n musiek puris/snob nie maar die dame kan sing. Daar is die bittergalle wat Afrikaanse musiek sal afmaak maar dit daar gelaat. Van haar oudisie om op die Idols program te verskyn tot nou handhaaf sy ‘n hoë vlak van professionalisme en kwaliteit musiek. Sy is vir my een van die land se beter ligte musiek sangeresse. Doe zo voort jonge dame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.