Luister: Jannie du Toit toer met kitaar

Jannie du Toit het heerlik op Maroela Media se stoep op sy kitaar getokkel. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Soos wat musiekliefhebbers in die laat sewentigerjare vir Jannie du Toit met sy kitaar leer ken het, so is hy binnekort weer op die verhoog as solokunstenaar te sien.

Op 25 Junie kan aanhangers van dié “Liedjie vir jou”-sanger naderskuif vir Oppiekitaar, ʼn solokonsert waarin ʼn keur van Jannie se meer en minder bekende liedjies van die afgelope 50 jaar opgevoer word.

“Ek gaan net van my eie gunstelingliedjies by die konsert sing. Liedjies waarvan die meeste mense eintlik nie weet nie, wat nie op speellyste was nie, maar wat wel op albums verskyn het.

“Die oudste liedjie op die program het ek presies 50 jaar gelede geskryf. Dit is ʼn verwerking van AG Visser se gedig, ‘Rosa Rosarum’,” vertel Jannie in Maroela Media se ateljee.

Ander treffers waarna gehore kan uitsien, is “Drie uur in die môre”, “Volgende Winter” en “Cholesterol”.

Oppiekitaar, wat in samewerking met Pretoria FM aangebied word, het begin by Jannie se vriende wat hom oor ʼn solokonsert gepols het.

“Vriende vra al ʼn geruime tyd vir my wanneer ons saamkuier en ek spontaan die kitaar optel om te speel of ek weer ʼn solovertoning sal aanbied. Ek het daaroor gedink en gevoel dit is nogal ʼn oulike idee en waarvoor ek kans sien,” vertel Jannie.

Jannie du Toit kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy is opgewonde oor die moontlikhede om met hierdie konsert te toer en sy musiek landwyd in ʼn ligte luim met aanhangers te deel.

“As ek dan nou net saam met my vrou in die kar wil klim en sommer vir twee weke wil gaan rondry, kan ek dit nie doen as ander mense se dagboeke in ag geneem moet word nie.

“Die lekker eenvoud van Oppiekitaar is dat ek my kitaar en ʼn luidspreker in die motor kan laai, en landwyd vir mense musiek kan gaan maak. So ek is vreeslik opgewonde oor die konsert.”

Die konsert begin op 25 Junie om 15:00. Kaartjies vir Oppiekitaar wissel tussen R180 en R220 en dit is by Seatme beskikbaar.

Luister hier na ʼn lusmaker vir die konsert:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.