Luister: Jong Anzélle verower treffer vir treffer musiekharte

Anzélle. (Foto: Hendri Viljoen/Skoll Photography)

Hoewel haar lewe sedert die uitreiking van haar eerste twee enkelsnitte nie veel verander het nie, glo die jong sangeres Anzélle dat haar musiekstyl en die manier waarop sy musiek skryf, intussen verander het.

Anzélle, wat haar debuut op die Afrikaanse musiektoneel gemaak met “Klein botteltjie groot gif” en later die voetstamptreffer “Lawaaiwater” uitgereik het, se jongste enkelsnit is getiteld “Slegte invloed”.

“Slegte invloed” is geskryf deur Hugo Ludik en Nick Jordaan van Muse Studios, wat al vir talle Afrikaanse treffers gesorg het.

“Ek wou nog altyd saam met Hugo en Nick werk. Ek is mal oor die klank van hulle musiek. Dit is ongelooflik as drie mense hulle talente kan saamsnoer om iets spesiaals te skep,” vertel Anzélle in Maroela Media se ateljee.

Vir Anzélle (20), ʼn student aan die Noordwes-Universiteit, het die inspirasie vir dié nuutste, opgewekte popliedjie uit haar pen dadelik getref toe sy in die ateljee was.

“Dit gaan oor die goed en die sleg in ʼn verhouding. Oor iemand wat slegte dinge doen en nie goeie waardes het nie, maar wat telkens jou voete onder jou uitslaan met sjarme en blomme,” verduidelik Anzélle.

Sy sê die terugvoer oor die liedjie is oorweldigend. “Ek is net bly mense hou daarvan en luister daarna.”

Sy skerts dat sy probeer om elke oggend vroeg op te staan om klas toe te gaan, maar bieg laggend dat dit Donderdagoggend maar sukkelend gaan.

Anzélle. (Foto: Hendri Viljoen/Skoll Photography)

“Ons sing elke Woensdagaand karaoke by ʼn kuierplek in Potchefstroom. Ons moet beslis so ʼn tipe plek in Pretoria ook begin,” sê sy opgewonde.

Anzélle het vroeër vandeesmaand op die Super Sokkie-bootreis verskyn as een van die kunstenaars wat deur Maroela Media se lesers benoem is om die bootreis mee te maak.

“Die bootreis is ʼn ongelooflike geleentheid vir my om saam met groot name op te tree, en dit is ook my heel eerste keer op ʼn bootreis. Ek borrel oor van opgewondenheid.”

Sy het saam met JD Mars en ander groot name soos Kurt Darren, Juanita du Plessis, Jakkie Louw, Nicholis Louw, Jay du Plessis, Ray Dylan, Lianie May en Dirk van der Westhuizen bootreisigers met Afrikaanse sokkiemusiek vermaak.

“Ek beplan om nog baie op te tree hierdie jaar. Hopelik kan dit van hier af telkens net groter en beter raak.”

“Slegte invloed” is op alle digitale platforms beskikbaar. ʼn Liriekevideo vir die liedjie is ook beskikbaar op YouTube.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Anzélle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.