Luister: Jong, doofgebore Zoé jaag musiekdroom na

Zoé. (Foto: Verskaf)

Op 20-jarige ouderdom het Zoé, ʼn jong sangeres en liedjieskrywer, lankal besluit dat dit haar droom is om ʼn sangloopbaan na te jaag, al is sy doof gebore.

“Die feit dat ek doof gebore is, maak sang beslis moeiliker, maar ek het van die begin af besluit dit is my passie,” vertel die donkerkop in Maroela Media se ateljee.

Sy vertel toe sy gebore is, het haar ouers gedink sy is ʼn koliekbaba omdat sy onophoudelik geskree het. Na verdere toetse het hulle agtergekom Zoé kan nie hoor nie.

Zoé het talle operasies ondergaan en selfs gehoorapparate gedra tot aan die einde van haar laerskoolloopbaan, waar sy as swemmer en danser ook uitgeblink het.

“Ek was baie erg gespot oor die apparate op laerskool, so ek het besluit om dit nie op hoërskool te dra nie. Ek het altyd in die klas voor gesit om seker te maak ek kan hoor en ek is nou baie goed daarmee om lippe te lees.”

Zoé sê sy laat nie toe dat haar gehoorprobleem in die pad staan van haar grootste droom om musiek te maak nie.

“Dit voel so reg. Niks gaan my keer om alles in my vermoë te doen om hierdie te maak werk nie.”

Zoé. (Foto: Verskaf)

Zoé het haar debuutenkelsnit, “Crazy meisie”, self geskryf. Sy sê die lirieke van die popsnit is bemagtigend en opbouend.

“Dit is vir al die mense wat my al op ʼn sekere manier laat voel het. As jy ʼn passie het, is dit so maklik vir mense om jou mal te noem. Ek geniet dit baie om dit te sing, en ek kan sien as ek dit sing, hoe ander mense dit ook geniet. Dit maak my opgewonde,” sê Zoé.

Die musiekvideo is ʼn kleurvolle uitbeelding van die liedjie. “Ek sny ʼn teddiebeertjie op en eet koek met my hande. Ek wou net goed uitbeeld wat ʼn crazy meisie sou doen,” lag sy.

Die jong sangeres is nie bang vir ʼn uitdaging nie en sê sy sien uit daarna om haar loopbaan te ontwikkel en ʼn pad in die Afrikaanse musiekbedryf uit te kerf.

“Waarookal ek kan gaan, gaan ek. Ek wil net die hoogste hoogtes wat ek kan bereik, en ek kan nie sien hoe die bal nou gaan ophou rol nie.”

“Crazy meisie” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.