Luister: Jong rocker verwerk pyn, geluk deur musiek

Zaan Sonnekus. (Foto: Terse Photography)

Zaan Sonnekus is ʼn begaafde jong musikant wat nie bang is om sy eie styl en aangrypende hartslirieke met luisteraars te deel nie.

Sy jongste enkelsnit, “Ek kan net bid”, weerspieël sy diep kant as liedjieskrywer. Hy vertel in die Maroela Media-ateljee dat hy ʼn “groot, dramatiese klank” wou skep met die enkelsnit om sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met ʼn knal af te skop.

“My nuwe musiek is rustiger, al het dit steeds ʼn alternatiewe klank. Dit is ʼn klank vir almal,” sê Sonnekus, wat binnekort sy 23ste verjaardag vier.

Hy vertel die lirieke vir “Ek kan net bid” is geïnspireer deur sy ma, Trudi, wat in November verlede jaar weens Covid-19 oorlede is.

“Ek het soms wakker geskrik met my ma wat op die voetenent van my bed sit en vir my bid. Sy het nooit vir my gesê waaroor sy vir my gebid het nie, maar ek neem aan dit was vir beskerming. As my ma nie só vir my gebid het nie, sou ek lankal die pad byster geraak het,” sê Sonnekus.

“Die liedjie gaan oor gebed in desperate tye. As ons almal net kan saam bid, saam leef, sal ons die wêreld kan verander.”

Hy skryf graag sy lirieke met ʼn potlood in ʼn boekie wat sy pa vir hom gekoop het. “Ek skryf ook sinne en kort gediggies op my foon, wat eers nie sin maak nie, maar dan breek ek dit af en maak iets anders daarvan.”

Sy ma, ʼn kunstenaar en skrywer, het hom touwys gemaak in skryf en rym. “Ek wou van jongs af uitdrukking gee aan wat binne my aangaan, wat my seermaak en wat my gelukkig maak. Ek het my eerste kitaar op sewe gekry en later het ek alle belangstelling in huiswerk verloor en net my kitaar met behulp van YouTube-video’s leer speel.”

Hy het toe sy eie goed begin skryf. “Ek kan dit nie onthou nie, maar ek het altyd as kind vir my familie gesê ek gaan ʼn dominee wees wat sing. Ek is nou nie op die preekstoel nie, maar ek sing darem.”

Sonnekus, wat oorspronklik van Bloemfontein in die Vrystaat afkomstig is en later by die Afrikaans Hoër Seunskool skoolgegaan en by COPA musiekopleiding gekry het, se musiekvideo vir “Ek kan net  bid” is onlangs uitgereik. Die video het reeds meer as 17 000 kykbeurte op YouTube.

Coolerbox Brothers het die video vervaardig onder leiding van Vonk Musiek. Die video is by Monte de Dios in Pretoria geskiet en George van Rooyen het die regie behartig.

Tertius Human het die liedjie vervaardig, terwyl Kobie Koen, Marno Koen en Michael van Zyl ook vir die musiekvideo verantwoordelik was.

“Die meeste van my liedjies begin as ʼn gedig wat aangepas word om by die wysie te pas. Ek skryf elkeen van my liedjies self. Hierdie een is vir my soos ʼn kleipot, wat heel waarskynlik net so broos is soos ék toe ek dit geskryf het, maar ook amper soos ʼn gebed wat my in al die chaos en verwoesting die krag gegee het om moed te skep en aan te hou veg.

“My ma was ʼn ongelooflike en saggeaarde mens. Sy het my alles geleer van liefde en vrede en was een van die beste kunstenaars wat al ʼn kwas opgetel het. Soms maak trauma ʼn mens dood aan die binnekant en dan vergeet jy wie jy eintlik is. Sy is die rede agter die liedjie.”

Zaan Sonnekus. (Foto: Terse Photography)

Hy verklap dat daar nog een enkelsnit uitgereik gaan word voordat die vollengte-debuutalbum in Augustus of September vanjaar die lig gaan sien.

Elke snit op die album is geskryf om die pyn wat hy die afgelope paar jaar ervaar het te verwerk. “Om nie kop te verloor in donker tye nie, sterk te staan en eerlik te wees, was die grootste uitdagings wat ek sover moes oorkom en ek sukkel steeds soms daarmee.

“Die snitte is elkeen ʼn geringe blik op wie ek is, maar kan dalk iets heeltemal anders vir iemand anders beteken.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

“Ek kan net bid” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.