Die bekende rasperstem-sanger Juan Boucher het onlangs sy nuutste album, 12 Rondtes, bekendgestel, en hy wil daardeur mense aanmoedig om van voor af in die idee van liefde te glo.
Boucher het in sy vorige album, Onthou jy om jonk, wegbeweeg van sing oor die liefde en eerder gefokus op drome, die goeie en kwade, eerlikheid en die lewe soos dit met hom en ander om hom gebeur. Hy het wel sy pad teruggevind na die liefde vir sy jongste album.
“Ek sien liefde vinnig raak. Liefde is lekker om oor te skryf. Ek hou van stories skryf, en liefdestories is altyd my gunsteling. Ek het ook baie vriende wat baie goeie verhoudings het,” het hy gesê.
Die eerste snit op 12 Rondtes, “Ons het dit gebou”, is ʼn stemopname wat Boucher ʼn “inleiding” noem.
“Die inleiding van die album is sodat jy van die begin af weet wat die album sal beteken – dis is ʼn liefdesalbum.
“Dit is ʼn inleiding, nie net vir die album nie, maar ook vir wanneer jy dalk eendag in die kerk instap om met jou droomman of -vrou te trou. ’n Sterk vrou agter ’n sterk man is ’n baie goeie kombinasie, en dit is waaroor ‘Ons het dit gebou’ gaan.”
Boucher wil hê mense wat na dié album luister, moet van voor af verlief raak op hul man of vrou.
“Ek wil hê mense moet die album eers alleen luister voordat hulle dit saam met ander mense luister. Gooi ʼn glas wyn en steek ʼn vuurtjie aan. Luister na die lirieke want dit vat jou op ʼn emosionele reis.
“Ek wil hê jou hart moet so bietjie vinniger en dan so bietjie stadiger klop en dan moet jy net verlief raak van voor af. Al is jy nie eens verlief is nie, moet jy glo in die idee dat jy verlief gaan raak,” het hy gesê.
Die snit “Ons word een”, wat Boucher as ʼn “trouliedjie” beskryf, is reeds gewild onder aanhangers en het al meer as 130 000 kyke op YouTube gekry. Boucher is ’n bekroonde sanger en liedjieskrywer van albums soos 082, Jy’s my Flavour, Gee jou hart ʼn breek en Kalm voor die storm.
12 Rondtes is beskikbaar vir aankope op verskeie digitale platforms en ook by groot musiekhandelaars. Vir meer inligting besoek Juan Boucher se Facebook-blad.
Flippen stunning~love jou musiek Juan. Moet nooit ophou nie
Wow wow wow!!! Absoluut stunning – vat aan ‘n mens se siel. Well done Juan.
Love jou en jou musiek… jy is awesome!