Luister: ‘Kwaaitjie’-sanger maak opslae met debuutsnit

Prop kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as die sanger en liedjieskrywer Prop, se enkelsnit “Kwaaitjie” is só ʼn oorwurm dat die musiekvideo daarvoor al byna 160 000 keer op YouTube gekyk is.

Prop vertel in die Maroela Media-ateljee hy het lank gesukkel om ʼn liedjie te skryf wat presies die dinamika van ʼn verhouding vasvang terwyl dit ook Afrikaanse volkstrots versinnebeeld.

“Op ʼn dag het Pieter van Rooyen se gedig, ‘Meisie 1’, waarin hy skryf oor ‘kraaitjie melaatjie’, in my kop vasgesteek, maar ek wou nie na ʼn vrou verwys as ʼn kraaitjie nie. Toe ek die woord verander na ‘kwaaitjie’ was dit asof alles skielik in plek val.

“Ek wil net benadruk dat ek nie na my vrou verwys as ‘kwaaitjie’ nie,” skerts hy.

Die liedjie is ʼn massiewe treffer en is tans in die 14de plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 nadat dit slegs twee weke gelede in die laaste plek op dié treffersparade gedebuteer het.

Prop vertel hy is oorspronklik van Witbank, waar hy as gr. 8-leerder vir die eerste keer ʼn kitaar opgetel het.

“Ek het toe al geweet dat ek eerder ʼn skrywer of kreatiewe persoon wil wees wat uiting kan gee aan emosies deur musiek.”

Hy het van 2007 tot 2012 saam met Robbie Wessels as kitaarspeler getoer. Hy het egter in 2016 ophou toer as musikant en besluit om hom op die argitektuur toe te spits.

“Ek het op die rype ouderdom van 27 begin studeer aan die Universiteit van Pretoria en het in 2019 my meestersgraad voltooi waarna ek begin werk het in die argitektuurbedryf. Dit was vir my belangrik om lewenservaring op te doen sodat ek musiek kon skryf. Ek wou die sogenaamde regte lewe ervaar.”

Hy het twee jaar gelede saam met die bekende musiekvervaardiger Murray Lubbe begin werk aan sy debuutalbum, wat vandag (Vrydag) uitgereik is.

Die album heet Sing Hoop Weerklink. Dit was ook die naam van die eerste LIG-konsert wat verlede jaar in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aangebied is – ʼn droom van Prop wat saam met dié instansie bewaarheid is.

Die album bevat energieke musiek wat in enige geselskap gespeel kan word, al bevat dit ook lirieke oor diep onderwerpe.

“Ons as Suid-Afrikaners het mos die gawe om met ʼn stukkie humor ʼn ernstige saak veel ligter te maak,” sê Prop. Dit is ook wat hy met dié album wou bereik.

“Ons mantra terwyl ons die album vervaardig het, was ‘lag ʼn bietjie, leef ʼn bietjie’, en dit is die beginsel waarvolgens ons geskryf het.”

Op 3 September vanjaar vind die tweede LIG-konsert by die Sol-Tech-kampus in Monumentpark plaas. Prop, Mathys Roets, Monique Steyn en Ruhan du Toit is maar net ʼn paar van die land se toonaangewende sangers wat ten bate van mense met gestremdhede gaan optree.

Vernon Barnard en Rochelle Veenemans, die blinde kleindogter van die bekende operasopraan Barbara Veenemans, gaan ook by die geleentheid optree. Die seremoniemeester is die akteur Eric Holm, wat in 2007 ʼn kwadrupleeg geword het toe hy in ʼn dam geduik en sy nek gebreek het.

“Die doel van die LIG-konsert is nie net om saam te kuier en ʼn gesinsaand in die buitelug te geniet nie, maar ook om opnuut bewusmaking te skep van mense met spesiale behoeftes. Ons wil hulle help om hul stemme te laat hoor. Ons wil ook geld insamel vir die LIG-studiefonds sodat ons mense met gestremdhede die geleentheid kan gee om te studeer. So wil ons ʼn volhoubare verskil maak in hul lewe.”

Die hekke open om 16:00 en die vertoning begin om 17:00. Kaartjies kos R210 vir volwassenes en R90 vir kinders. Besoek www.ligkonsert.co.za om meer te lees oor die konsert of om jou kaartjies te koop.

Sing Hoop Weerklink is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Kwaaitjie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.