Luister: Lianie May wil mense opbeur met ‘Bietjie Benoni’

‘Bietjie Benoni’ is Lianie May se nuutste enkelsnit. (Foto: Verskaf)

Lianie May-aanhangers kan gerus hul vere regskud want die borrelende blondine wil almal aan die dans kry met haar splinternuwe enkelsnit “Bietjie Benoni”.

Dié treffer is deur Roux Cloete, wat ook Irene-Louise van Wyk se langarm-skoffeltreffer “Tekkies brand” en Fatman se “Ons gaan dorp toe” neergepen het, geskryf.

“Bietjie Benoni” is haar eerste nuwe enkelsnit in byna vyf jaar en is met ʼn prettige gepaardgaande musiekvideo bekendgestel waarin ons sien hoe die sangeres by ʼn parkeerterrein in ʼn renmotor “drift”.

“Ek het Roux gekontak en gesê ek wil ʼn lekker energieke ‘doef-doef’ liedjie hê om mense ʼn bietjie op te beur,” het die trotse Vrystater in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel.

In die onderhoud deel sy ook waarom sy ná byna 15 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf steeds dieselfde energieke en opregte plaasmeisie is wat in 2007 ʼn oornag sukses geword het met haar debuuttreffer “Vergeet my nie”. “Die pandemie het my laat besef wat werklik belangrik is en dat die lewe té kort is om met mense te stry.”

Die 45-jarige sangeres, wat graag Gé Korsten-flieks geniet en af en toe steeds na die dae van CD’s verlang, vertel verder dat sy altyd ʼn ou siel sal wees en skerts dat dit soms ʼn aanpassing is om te hoor hoe dieselfde jong outjies wat destyds op haar “verlief” was haar nou “tannie” noem.

“Ek neem myself gelukkig nie té ernstig op nie. Ek glo jy moet altyd nederig bly en opreg wees, ongeag jou roem.”

Sy deel ook waarom sy glo daar tog ʼn “bietjie Benoni” in elkeen van ons is.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk na die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.