Luister: Liedjieskrywer vind haarself in Afrikaans

Toe die 21-jarige aspirant-liedjieskrywer Elsje du Toit haar skrywerspen opgetel het om ʼn Afrikaanse snit neer te pen, het sy nie verwag dat dit ʼn splinternuwe liefde vir haar moedertaal sou aanwakker nie.

Elsje het in Julie verlede jaar ʼn liedjieskryfkursus van Deon Meiring en Jako Meyer bygewoon, wat in samewerking met Skryfnet aangebied is. Die tydsberekening daarvan was perfek, aangesien sy ʼn kort rukkie voor die kursus besluit het om haar Afrikaanse skryfvaardighede op die proef te stel.

Sy het “Om myself te vind” reeds tydens die kursus begin skryf, en beskryf dit vandag as ʼn liedjie wat haar uitkyk op haar moedertaal en musiek verander het.

Elsje skryf reeds van jongs af, maar bieg dat haar liedjies maar nog altyd in Engels was.

“Ek het reeds op die ouderdom van 11 begin liedjies skryf, dit is een van my grootste passies. Ek het nog altyd in Engels geskryf want dit het makliker en meer natuurlik gevoel. Iemand het vir my gesê dat ek myself ʼn groot onreg aandoen deur nie in Afrikaans te skryf nie,” sê dié boorling van Hermanus in Maroela Media se ateljee.

Elsje erken dat haar Afrikaans verswak het in haar studentejare en tyd as jong werkende. As skolier het sy gereeld Afrikaans gepraat, maar as jong volwassene het die taal in haar lewe begin wegkwyn.

“Dit was vir my hartseer, want ek is eintlik trots op my moedertaal,” sê sy.

“Ek gefrustreerd in die kursus gevoel, juis omdat ek daar gesien het hoeveel my Afrikaans verswak het. Ek het heeltyd gewonder hoekom ek so sukkel om te sê wat ek wil sê. Die kursus het my oë oopgemaak en die liefde vir my moedertaal opnuut laat vlamvat.

“Nou luister ek verskriklik baie Afrikaanse musiek, kyk Afrikaanse rolprente en lees Afrikaanse boeke. Dit is dinge wat ek ook nooit voorheen gedoen het nie.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Elsje du Toit.

Luister hier na Elsje se heel eerste Afrikaanse snit, “Om myself te vind”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.