Luister: ‘Musiek is hoe ons praat sonder woorde,’ sê jong sangers

Renaldo en Tamlyn Wessels. (Foto: verskaf)

Daar is talle dinge wat Tamlyn Wessels gemeen het met Die Kontrak se Renaldo, maar wat veral uitstaan is hoe musiek die woorde vorm wat hulle soms nie kan vind nie.

Dié twee musikante het vroeër vanjaar kragte saamgesnoer om ʼn nuwe liedjie, “Langer bly”, uit te reik.

Dié enkelsnit is deur Tamlyn geskryf en handel oor twee mense wat besef dat hulle van mekaar begin hou, hoewel hulle nog nie die selfvertroue het om dit te sê nie.

“Dit was wel moeilik om die man se gedeelte te skryf; ek weet nie hoe hulle dink nie,” skerts die 20-jarige sangeres in Maroela Media se ateljee.

Tamlyn en Renaldo het elkeen in eie reg ʼn lang pad gestap voordat hulle uiteindelik die mikrofoon gevind het.

Tamlyn is in 2017, aan die einde van haar gr. 7-jaar, met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer. Dit is ʼn seldsame toestand wat ʼn persoon se immuunstelsel sy eie senuweestelsel laat aanval.

“My lyf het homself aangeval en ek was heeltemal verlam,” het sy vroeër aan Maroela Media vertel.

Ná ʼn agt maande in die hospitaal en ʼn jarelange herstelproses, is haar enkelspiere die enigste in haar liggaam wat nog nie ten volle herstel het nie.

Hoewel sy vandag steeds nie sonder spalke wat haar enkels in plek hou kan loop nie, sê sy dat dit haar nie keer om haar lewe voluit te leef nie.

Tamlyn het reeds verskeie musieksnitte agter haar naam en het selfs vroeër vanjaar met haar studies in musiekvervaardiging begin. Dit is juis dié studies wat ʼn aanknopingspunt vir haar en Renaldo was.

Renaldo het verlede jaar bekendheid verwerf toe hy as buiteperdspeler in die derde seisoen van die talentsoekprogram Die Kontrak verskyn het.

Hy het vir Tamlyn in die restaurant en kuierplek Moonshine in Pretoria ontmoet, hoewel nie een van hulle kan onthou watter geleentheid dit was nie. Hulle het begin gesels, en kort voor lank het hulle besef dat hulle nie net albei sangers is nie, maar ook albei daarin belangstel om eendag musiek te vervaardig.

“Ons het nie net nommers uitgeruil nie, maar musiek ook,” onthou Tamlyn.

(Foto: verskaf)

Renaldo (24) kan sy lewe nie sonder musiek voorstel nie en onthou hoe daar nie ʼn dag in sy grootwordjare verbygegaan het sonder dat musiek nie iewers gespeel is nie.

“Musiek het altyd met alles gepaard gegaan wat ons gedoen het,” vertel hy. “My boetie het ʼn reuse-luidspreker gehad, so hoewel dit nooit lekker was om op te moes staan vir skool nie, het die musiek wat vroegoggend geblêr het beslis gehelp.”

Hy sal sy tyd op Die Kontrak vir niks verruil nie.

(Foto: verskaf)

“Ek onthou hoe ek nog eendag op die snelweg gery het toe ek die oproep kry. Ek het gedink die deelnemers is reeds gekies, en toe word ek gevra om ʼn wild card te wees.

“Ek sou definitief nie nee sê nie!”

Renaldo het nou nog kontak met verskeie mededeelnemers en geniet dit veral om te sien waarheen elkeen se musiekpad wandel.

Die Kontrak het vir my ʼn vorm van erkenning gegee. Dit was ʼn groot mylpaal in my loopbaan.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Tamlyn en Renaldo.

Luister hier na “Langer bly”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.