Luister: Musiek, liefde bind Janie Bay en Deon Dee

Janie Bay op die stel van die musiekvideo vir haar splinternuwe liedjie, “Die Dansvloer”. (Foto: Anna Pepper Photography)

Dit is selde dat jy Janie Bay, die liedjieskrywer met die engelstem, sonder haar lewensmaat, Deon Dee, aan haar sy sal sien.

Dié twee musikante “eet en slaap” musiek en beweeg die afgelope dekade saam in dieselfde musiekkringe terwyl hulle nie net vir hulself in die musiekbedryf naam maak nie, maar ook musiek vir ander kunstenaars in die bedryf skryf en vervaardig.

Al is Janie (38) byna nege jaar ouer as Deon (30), pas hulle mekaar soos ʼn handskoen, en floreer hulle verhouding van die afgelope nege jaar, sê hulle.

Janie en Deon het mekaar in 2012 ontmoet, toe Deon nog ʼn 19-jarige “laaitie” was, en Janie ʼn vrou van amper 28.

“Al was Deon nog bitter jonk, het hy beslis destyds ʼn ander tipe volwassenheid en emosionele intelligensie gehad as ander ouens van sy ouderdom. As dit nie só was nie, sou ek en hy mos nooit by mekaar kon aanklank vind nie,” vertel Janie aan Maroela Media.

“As 19-jarige het ek van die begin af vir haar ogies gemaak. Sy is pragtig!” vertel Deon, wat saam met Janie in Maroela Media se ateljee kuier, laggend.

Deon se pa, Deon Volschenk, is die eienaar van die Sinkshack-musiekvenue in Bronkhorstspruit. Janie het gereeld by dié venue gesing en so vir Deon en sy familie leer ken.

“Die beste ding van ons is dat ons lank eers goeie vriende was voordat iets romanties tussen ons ontwikkel het. Ek het geweet wat sy vriende en familie van hom sê en vir my is dit ook ʼn goeie manier om iemand te leer ken – deur die mooi dinge wat hulle van hom gesê het,” onthou Janie.

Janie Bay en Deon Dee. (Foto: Verskaf)

Hoewel dit nie vir alle paartjies werk om in dieselfde bedryf te werk nie, geniet Janie en Deon dit om saam musiek te maak.

“Die dinge waaroor ons daagliks met mekaar praat, het baie met musiek te doen, en ons raak nie moeg om met mekaar daaroor te deel nie. Ons daag mekaar ook uit op ʼn musikale vlak, want ons verskil baie oor waarvan ons hou en waarvan ons nie hou nie,” sê Deon.

Tog het hulle oor die jare heen ʼn respekvolle manier gekry om met mekaar te kommunikeer. “Ons is albei van nature baie saggeaard en het van die begin af ʼn groot sin vir respek vir mekaar en ons luister na mekaar. Elke jaar verdiep ons verhouding, want ons kommunikasie raak net al hoe beter.”

Die moeilikste tyd van hulle verhouding was toe Deon vir die bebaarde musikant Jo Black as kitaarspeler opgetree het en gereeld op toere moes gaan. Dit het beteken dat hy gereeld vir lang tye op ʼn slag van die huis af moes wees.

“Noudat ek saam met Janie kan musiek maak en toer, geniet en waardeer ek dit soveel meer,” sê Deon, wat ook sy eie ateljee en vervaardigingsmaatskappy, Dee Graaff Productions, saam met Ruan Graaff bestuur.

Dee Graaff Productions is ook onder meer doenig met musiek van Jacques Leonard, Jemma Catherine en Alba V. Dit is ook dié maatskappy wat saam met Janie haar jongste enkelsnit, “Die Dansvloer”, vervaardig het.

Janie se vorige treffers, “My lief”, en “Ek glo nog in jou” saam met Danie Reënwolf is ook in Dee Graaff se ateljee gemeng en vervaardig.

“‘Die Dansvloer’ is geïnspireer deur iemand wat ek ken wat my vertel het van haar soloreis na Europa. Ek het toe sommer oor ʼn vakansieromans geskryf,” sê Janie oor dié splinternuwe popsnit uit haar pen.

“Ek het aanvanklik die liedjie geskryf met ʼn ander kunstenaar in gedagte, maar soos wat die proses gevorder het, het ek begin speel met die idee om self die liedjie op te neem al is dit soveel anders as my ander liedjies.”

Die heel eerste foto van Janie en Deon as paartjie in 2014. (Foto: Instagram)

Die paartjie is dit eens dat hulle uiters passievol is oor geestesgesondheid en vertel dat hulle gereeld medekunstenaars en mense in die vermaakbedryf aanmoedig om terapie te kry.

“Ons het terapie self op die proef gestel en dit werk. Deon se terapeut het sy lewe gered toe hy op die laagste plek in sy lewe was,” sê Janie, en Deon knik sy kop instemmend.

“Ons wil net hê mense moet beter raak en hulle selfvertroue opbou. Egte selfvertroue oor wie en wat hulle is. As musikante moet ons weet wie ons is sonder die musiek en wat is ons waarde vir onsself en ons mense daarsonder.”

Hulle benadruk dat die ouderdomverskil tussen hulle nie ʼn kwessie is nie. “Ons ontmoet mekaar nou baie mooi in die middel.

“Dit was egter vir my baie moeilik in die aande as ek wil uitgaan en ek moet eers vir Janie wag om haar tande in te sit en haar kierie te kry,” skerts Deon.

Janie en Deon is al nege jaar in ‘n verhouding. (Foto: Facebook/Janie Bay)

Hy het so te sê in die Sinkshack grootgeword, ʼn musiekvenue waar al die land se grootste name al opgetree het.

“Kan jy jou indink die gesprekke wat ek al daar gehoor het by die ou omies wat in die kroeg kom sit? Op 13-jarige ouderdom het ek al drie toere as deel van ʼn orkes agter die rug gehad,” vertel Deon.

Hy en Janie glo dit dra by tot sy vlak van volwassenheid op ‘n vroeë ouderdom. “Ek is haar man, en sy is my vrou. Ons het nie ʼn stukkie papier nodig om ons toewyding aan mekaar vas te lê nie. Ons wil niks verander nie, want ons verhouding is reeds alles wat ons soek.

“Ons laat mekaar elke dag lag en dit is vir ons die lekkerste ding om saam te doen.”

“Die Dansvloer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Janie Bay oor “Die Dansvloer”.

Kyk hier na die musiekvideo:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.