Luister: Nádine streef na gestroopte lewe, liefde

‘n Onopgesmukte Nádine kuier in die Maroela Media-ateljee.

Gestroop van fieterjasies, eenvoudig en sonder voorbehoud.

Dít is nie net hoe die sangeres en aanbieder Nádine voortaan die lewe wil aanpak nie, maar ook hoe sy nou oor die liefde voel.

Die sangeres wat vroeër vanjaar haar 40ste verjaardag gevier het, vertel in die Maroela Media-ateljee haar splinternuwe enkelsnit getiteld, “Liefde sonder ʼn maar”, som presies op hoe sy voel oor die plek waar sy is in haar lewe.

“Ek is nou op ʼn ouderdom waar ek voel daar is nie meer ʼn rede of verskonings vir dinge om uit te werk, al dan nie. ʼn Ding loop soos stroop of dit loop nie; ʼn motor ry of dit ry nie. Almal van ons wil by iemand wees wat nie verskonings het nie.”

Hoewel die liedjie geskryf is deur Roux Cloete en Dirk van Niekerk, het sy deurlopend kreatiewe insette gelewer om seker te maak die boodskap bly eg.

“Elke liedjie wat ek sing, het vir my ʼn persoonlike konnotasie. Dit is belangrik as jy musiek na mense toe bring dat jou hart daarin is. Die gehoor wéét as ʼn kunstenaar eerlik is in sy werk, en dit is waarna ek altyd strewe.”

Vir die musiekvideo, wat op ʼn grondpad geskiet is om te pas by die tema van die liedjie, wou sy gestroop van verhooggrimering en blink aandrokke wees, want dit is wie sy is by die huis.

“Ek hou van ʼn eenvoudiger voorkoms wanneer ek nie op die verhoog is nie. Mense vra my gereeld of ek elke dag grimering dra. Nee, hoegenaamd nie!

Nádine op die stel van die musiekvideo vir ‘Liefde sonder ‘n maar’. (Foto: Instagram/Nádine)

“Hoe ouer ek word, hoe minder lus is ek vir fieterjasies in die lewe. Ek wou graag vir die musiekvideo vir ‘Liefde sonder ʼn maar’ met my skoene vol stof en met hare wat deurmekaar gewaai is die liedjie uitbeeld.”

Sy het agt jaar gelede ʼn oorspronklike enkelsnit uitgereik en al met liedjies soos “Skildery” en “Tyd” langdurige sukses behaal, maar het onlangs besef dit is tyd om nuwe musiek uit te reik.

Nie net is sy die aanbieder van die SABC 2-program Musiek Roulette asook aanbieder van ʼn daaglikse digitale radioprogram nie, maar is sy ook tussendeur op die verhoog doenig met haar eie konserte asook groot musiekspele soos Joseph and the Amazing Technicolor Dream Coat.

Haar sakeonderneming, Nellie Vellies, is uit noodsaak tydens die inperkingstyd gebore en vandag spog dié reeks met produkte soos vellies, handsakke, reissakke en grimeersakkies.

“Musiek sal altyd die middelpunt bly van alles wat ek doen. Toe ek egter tydens die inperking niks anders as tyd op my hande gehad het nie, het ek besef ek moet die dinge aanpak wat ek nog altyd wou doen maar waarvoor ek nooit andersins tyd gekry het nie.”

Dié komende jaar, sê sy, gaan sy haar tyd selfs nog beter benut. “Tyd by my huis saam met familie en my katte is vir my baie belangrik. Ek maak kos, kyk na rolprente en bou legkaarte.”

En hoewel sy die afgelope ruk ʼn hele paar persoonlike storms in haar lewe moes trotseer, fokus sy nou op die dinge wat goed is vir haar hart, sê sy.

“Wanneer jy luister na dit wat binne jou klop, is wanneer jy jou beste werk lewer.”

“Liefde sonder ʼn maar” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Nádine.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Liefde sonder ʼn maar”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Nadine….jou gesien groei in jou loopbaan vanaf ‘n jong
dogter tot volwasse Kunstenaar..Sterkte vir jou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.