Luister: Neil Nachtrein se lirieke kom diep uit die hart

Neil Nachtrein (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die sanger en liedjieskrywer Neil Nachtrein is ’n musiekreus in ’n klein dorpie in die hartjie van die Vrystaat. Hy het onlangs sy nuutste solo-album, Op plekke waar ons eens was, uitgereik.

Dié Bloemfonteinse sanger is nie ’n nuwe gesig in die musiekbedryf nie. Nachtrein het vanaf 2015 saam met Jan Blohm as die duo-sanggroep Blomtrein musiekliefhebbers gaande gehad met hul rasperstemme, uitmuntende kitaarspel en oorspronklike lirieke. Na sowat vier jaar het Nachtrein egter van dié duo-trein afgeklim om sy eie musikale reis as solo-sanger voort te sit.

“Ek het soveel geleer by ’n gesogte musikant en sanger soos Jan Blohm langs my, maar dit was tyd om my eie ding te doen,” vertel Nachtrein.

Nachtrein het reeds in 2012 sy solo-debuutalbum Glisters & Blisters uitgereik, maar vir dié rasperstem-musikant voel sy nuutste album soos sy eintlike debuutalbum.

“Ek het gegroei as musikant vanaf 2012 met die uitreiking van my debuutalbum. Ek het destyds so half net uit die lekkerte liedjies geskryf en maar in plaaslike kroeë gespeel. Op ’n stadium het ek besef dat ek genoeg liedjies het om ’n vollengte album te kan saamstel. Ek stap toe met my handjie vol liedjies by ’n plaaslike ateljee in. Ek was nog ’n groentjie en het nie veel geweet van die opneemproses nie. Intussen het ek baie opgetree. Dit het bygedra tot my groei as musikant. Met die opneem van my nuutste album het ek al hoe meer geweet wat om te doen,” vertel Nachtrein.

Nachtrein vertel sy passie vir musiek is reeds op hoërskool gekweek toe ’n goeie vriend die Counting Crows se August and Everything After­-album vir hom gegee het. “Alhoewel ek nog altyd lief was vir musiek, het daardie album die liedjieskrywer binne-in my wakker gemaak.”

Volgens Nachtrein is sy liefde vir Afrikaanse musiek spesifiek deur die Alternatiewe Afrikaanse Beweging in die vroeë 2000’s aangewakker. “En daar het die dinge begin…” vertel hy.

Nachtrein het verlede jaar aan sy Op plekke waar ons eens was-album begin skryf en sowat ses maande gevat om die album by ’n plaaslike ateljee in Bloemfontein op te neem. Die titel van die album, asook ook een van die liedjies op die album, het ’n groot indruk op hom gelaat. “Dit was die heel eerste liedjie wat ek vir die album geskryf het. Ek het tóé besluit om dit ook die titel van die album te maak,” vertel Nachtrein.

Alhoewel Nachtrein nie na homself as ’n digter op sigself wil verwys nie, val sy lirieke soos poësie op die oor. In sy liedjies soos “Pelgrim”, “Stilste Uur”, “Op plekke waar ons eens was”, “1998” en “Rivier” skryf hy oor ervarings en emosies wat hom bygebly het. “Ek sê altyd: Jy is wat jy eet. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Jy moet skryf oor dinge wat jy al self beleef het. Soos byvoorbeeld: ‘1998’ is ’n terugblik op die plek waar ek grootgeword het.”

Nachtrein wil in die meeste van sy liedjies ’n nostalgiese emosie by luisteraars ontlok. “Die temas van my liedjies is universeel. Elke mens interpreteer liedjies anders. Soos die liedjie ‘Pelgrim’ gaan oor die mens in die algemeen se lewensreis en hoe almal op pad is iewers heen. Elkeen kan hul eie betekenis aan dié liedjie bind.”

Nachtrein is trots op wat hy sover met dié album vermag het. Die toekoms is rooskleurig vir dié Bloemfonteinse sanger en liedjieskrywer. Alhoewel hy op enige plek in die land kan woon, kies hy steeds die Vrystaat.

Nachtrein stel op 21 en 22 November sy Op plekke waar ons eens was-album amptelik by die Planetarium in Bloemfontein bekend. Besoek Neil Nachtrein se Facebook-blad vir meer inligting oor optredes en waar om die album in die hande te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.