Luister: Valeska ewe tuis agter mikrofoon en op die kassie

Valeska Muller (Foto: Saint Nic Media)

Valeska Muller was 15 jaar oud toe sy in die Staatsteater op die verhoog gestaan en saam met haar skoolkoor gesing het.

Toe daardie verhoogligte aangaan en sy uitkyk oor die gehoor, is die vlammetjie in haar aangesteek – só warm en só passievol dat sy sedertdien nog nie weer ophou sing het nie.

Ná byna 20 jaar in die bedryf is Valeska se debuutalbum My simfonie uiteindelik vandag op digitale platforms bekendgestel – en sy meen dit was die wag werd. “Daar is 18 liedjies in die album en elke enkele liedjie beteken vir my iets, elke liedjie het ʼn storie om te vertel.

“Elke liedjie is omtrent soos ʼn fliek, want daar is in elkeen iets anders om te beleef. Ek dink elke liewe persoon sal iets in daardie album kry waarvan hulle gaan hou,” sê sy.

Sy verklap dat dit ʼn twee jaar lange proses was om dié album uiteindelik op digitale platforms te kry. “Die werk wat hier ingaan is baie. Om die musiek en die lirieke te skryf, om te besluit wat jy wil sê en dan in die ateljee te besluit wat werk en wat werk nie; skryf en oorskryf. Liedjies opneem en dan weer opneem tot jy gelukkig is. Dan is daar fotosessies vir die album en jy moet sit saam met grafiese ontwerpers om die ontwerp te doen en dan die album gereed kry vir digitale platforms en vir die winkels. Daar is só baie aspekte aan ʼn album opneem,” verduidelik sy.

Die album-omslag van Valeska Muller se debuutalbum “My simfonie”. (Foto: Verskaf)

Valeska vertel dit is vir haar belangrik om ʼn bietjie van haarself in haar musiek weer te gee en daarom skryf sy haar eie liedjies en vind inspirasie in haar eie ervarings. Een so liedjie is “Verlange van jou” wat onlangs as enkelsnit uitgereik is en nou ook in My simfonie ingesluit is.

“‘Verlange van jou’ is ʼn emosie wat ek nou nog voel, dit is nie net iets wat ek gevoel het toe ek dit geskryf het nie. Ek het dit geskryf oor ʼn persoon vir wie ek baie omgegee het en ons was baie naby aan mekaar. Dinge werk nie altyd uit soos jy wil hê dit moet uitwerk in ʼn verhouding nie. Dinge kan baie met tyd verander en ons het net weg van mekaar af gegroei.

“En hierdie liedjie gaan oor daardie verlange na die liefde wat jy eens gehad het, en daardie gevoel van jy verstaan nie wat gebeur het nie. Ek dink ons almal het al na iemand verlang, nie noodwendig ʼn liefdesmaat nie, maar dalk jou ma, jou sussie, ʼn vriend oorsee. En ek glo in daardie opsig kan almal met hierdie liedjie identifiseer.”

Die kreatiewe proses is nie altyd baie lekker nie, erken sy, maar dit is baie vervullend. Soms vind sy dit moeilik om die woorde te kry om haar emosies mee weer te gee, maar dan gaan sy net ateljee toe, gaan staan voor die mikrofoon en begin enige woorde sing wat diep uit haar binneste kom. En voor sy haar kan kom kry, is haar gevoelens in woorde en note vasgevang.

Valeska Muller (Foto: Facebook)

So gemaklik as wat Valeska voor ʼn mikrofoon is, net so gemaklik is sy voor die kamera. Benewens hoofrolle in verskeie verhoogproduksies was sy ook al op die kassie te sien in programme soos Generations, Roer jou voete en Binnelanders. Sy het ook al in verskeie televisieadvertensies opgetree.

Sy vertel sy sien haarself as ʼn sangeres én aktrise, maar het ʼn voorkeur vir musiek. “Dit is amper makliker vir my, want ek kan myself wees en dit voel veiliger. Om ʼn aktrise te wees, is baie uitdagend en ek haal my hoed af vir al die akteurs en aktrises daar buite. Ek is baie oop en eerlik met my musiek, maar ek hoef net ek te wees. As jy ʼn rol speel, is jy nie jy nie,” verduidelik sy.

En wanneer sy nie in die ateljee of op ʼn stel is nie, is sy doenig by haar eie musiekskool, Valeska Muller Vocal Academy, waar sy opkomende sangers oplei. Tussendeur is sy besig om Spaans te leer en te oefen vir die Twee Oseane-marathon volgende jaar.

Hoe hou sy al hierdie balle in die lug? “Ek is baie gedissiplineerd, ten minste meeste van die tyd. Ek hou daarvan om ʼn roetine te hê en my dag te beplan [om by alles uit te kom]. Dit is baie uitputtend, maar dit is vir my baie lekker want ek kan sien watter verskil ek maak.”

Sy beplan om vir die res van die jaar soveel as moontlik op te tree en haar nuwe album se musiek met Suid-Afrikaanse gehore te deel. “Daar is baie om te doen en soms voel die dae kort. Maar ek sal ʼn lewe van musiek vir niks in die wêreld verruil nie.”

Volg Valeska op Facebook of Instagram vir datums van haar komende vertonings. My simfonie is nou op iTunes, Google Play en Spotify beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.