Lukas maak reg vir ‘n storm

storm op jupiter

Die oulike video van die liedjie Storie, vervaardig deur Bouwer Bosch Films, volg onderaan die berig. Die Kaapse liedjieskrywer en sanger, Lukas de Beer, het sy debuutalbum Storm op Jupiter, bekend gestel.

Dié tien-snit album bevat nege oorspronklike liedjies wat deur Lukas self gepen is, asook sy weergawe van Lucas Maree se “Weduwee se Kruik”.

Die musiekvervaardiger Helmut Meijer van Stellenbosch, was vir die verwerkings en vermenging verantwoordelik, en het ook tot die agtergrondstemme op die album bygedra. Luister ook vir die stemme van Uys Visser en Konstand Spies, en die geniale musikaliteit van Sven Blumer op kitaar en JP Crouch op tromme.

Wat Storm op Jupiter veral buitengewoon maak is die feit dat die meester vervaardig is deur Abbey Road Studios in Londen deur die fenominale Geoff Pesche. Dis nou dieselfde studio waar legendes soos The Beatles en Pink Floyd baie van hul treffers opgeneem het.

Met stukkies Blues, klassieke 80’s Rock, so bietjie Folk en ‘n dosis Pop vorm goeie, eerlik en digterlike liedjieskryf die kern van Storm op Jupiter, met lirieke en melodieë wat ongetwyfeld jou hart sal raak.

Liedjieskryf is glad nie vreemd vir Lukas nie. Van sy liedjies, voorheen deur ander kunstenaars opgeneem, het al gereelde radiotyd geniet. “Hier by My”, wat deur Liza Brönner opgeneem is, het in 2012 tot nommer een op destydse Radio Rippel (vandag Groot FM) se Top 20 geklim.

Wanneer sy stem nie in die vorm van liedjies op radio gehoor word nie, is Lukas ook aanbieder van die ontbytprogram op 729 KaapseKansel. Sy liefde vir radio is gebore uit sy dae as professionele stemkunstenaar in die korporatiewe wêreld. Met ‘n honneursgraad in Teologie (UJ), is Lukas ook vir baie jare al in musiekbediening betrokke.

So deur die produksiewerk van Storm op Jupiter heen, is Lukas nog boonop besig met ‘n Meestersgraad in Management Coaching (USB). Hy fokus sy navorsing daarop om sangers, musikante en liedjieskrywers te help om kreatief te kan bly in ‘n veeleisende bedryf – dit dan deur middel van Creativity Life Coaching.

Lukas speel baskitaar sedert laerskool, sing, en het ook tot onlangs nog Musiek Besigheid en Liedjieskryf by ‘n privaat kollege in Somerset-Wes aangebied vir voorgraadse studente.

Wanneer die dag tot ‘n einde kom en Lukas met alle musiekverwante dinge klaarmaak, keer hy terug na sy beeldskone vrou – ‘n mediese dokter – en hul drie kinders in Somerset-Wes.

Storm Op Jupiter is op iTunes beskikbaar. Kontak Lukas direk vir ‘n harde kopie.
Vir meer oor Lukas, volg hom op Twitter by @lukiedebeer of gaan hou van sy Facebook-bladsy.

Navrae en besprekings: [email protected] of 021 402 0352

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.