Luna Paige en vriende vier musikale voetspore

(Foto: verskaf)

Die musikant Luna Paige het Donderdag na die planke van die Woordfees in Stellenbosch teruggekeer om vriendskappe wat in musiek gesmee is opnuut te vier.

Paige was saam met Schalk van der Merwe (baskitaar), Gerald Clark, Simon Orange, Nick Turner en Jamie Jupiter by die Daisy Jones Bar  te sien.

Die sangeres se gewilligheid om te groei in haar loopbaan en om saam met ander, talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars te werk, het haar gedryf om haar eie sakeonderneming, Illuminar Productions, op die been te bring.

Onder die vaandel van dié onderneming, het sy sedert 2015 gehore met verskeie musiekteaterproduksies, wat onder meer Die ander konsert, Korreltjie Kantel, Her Blues en Smeltkroes insluit, bekoor.

In Luna Paige & Vriende nooi Paige vir Gerald Clark, wat byna ses jaar lank saam met Paige op die verhoog in die Lovemore Show te sien was, om weer saam met haar op te tree.

Nick Turner en Jamie Jupiter van Korreltjie Kantel en Simon Orange van Her Blues het saam met Paige op die verhoog verskyn.

Schalk van der Merwe, wat saam met die res van die kunstenaars in sy loopbaan diep spore in die musiekbedryf agtergelaat het, was ook deurentyd saam met Paige op die verhoog te sien.

Luna Paige & Vriende is ʼn skatkis propvol treffers uit vorige vertonings én nuwe liedjies wat gehore geboei hou. Liedjies uit Paige en Clark se Lovemore Show, Korreltjie Kantel en Her Blues is tydens dié produksie uitgevoer.

Paige het ook haar jongste musiek vanuit Behold my heart, Calm after the storm en With these eyes I feel, wat eers in November opgeneem sal word, tydens Paige & Vriende ten toon gestel.

“Met die aanvang van Covid-19 en die gevolglike heroorweging van amper alles in my lewe … kan ek eerlikwaar sê dat ek anders na die Suid-Afrikaanse musiekbedryf kyk. Soms ook met onsekerheid en ʼn tikkie bekommernis,” sê Paige oor die nuwe produksie.

“Daarom dat dit vir my sin gemaak het om by die Woordfees amper drie treë terug te gee en hande te vat met diegene by wie ek veilig voel, mense wat ʼn pad met my gestap het, saam met wie ek goeie tye, op persoonlike én kreatiewe gebied, ervaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.