Video: MK-toekennings bewys alternatiewe musiekbedryf is gesond

Jeremy Loops het die toekenning gewen vir die beste lewendige optrede. Foto: MK

Jeremy Loops het die toekenning gewen vir die beste lewendige optrede. Foto: MK

‘n Video van die MK-toekennings volg onderaand die berig.

Plaaslike alternatiewe rockgroepe Shortstraw en Al Bairre, was die groot wenners by vanjaar se MK-toekennings, nadat hulle elkeen met twee van die kategoriepryse weggestap het.

Shortstraw het die gesogte beste musiekvideo-toekenning vir hulle liedjie, Waterworks, ontvang. Hulle album, Good Morning Sunshine, het ook die toekenning vir die beste album gewen. Al Bairre is aangewys as die nuwelinge om dop te hou en hulle liedjie, We move on het die toekenning gekry vir die beste musiekvideo wat met ʼn begroting van minder as R15 000 vervaardig is.

Die glansryke toekenningaand vir Suid-Afrika se alternatiewe musiekbedryf het Saterdagaand by die Staatsteater in Pretoria plaasgevind, waar die room van die plaaslike musiekwêreld saamgetrek het om die musikale talent in dié genre te vereer.

Anne Hirsch, Bouwer Bosch en Jean Jordaan was die aanbieders vir die aand en het die gehoor aan die skater gehou terwyl Fokofpolisiekar, Al Bairre, Jack Parrow en Wrestlerish vir die musikale vermaak gesorg het.

Die ander wenners van die MK-toekennings 2014 was:

  • Beste lewendige optrede: Jeremy Loops
  • Beste Afrikaanse musiekgroep: Van Coke Cartel
  • Beste rockfees: Oppikoppi
  • Legende in die bedryf: Haddad Viljoen
  • Beste partytjieplek: Arcade Empire in Pretoria en Assembly in Kaapstad het gesamentlik dié toekenning ontvang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.