Muller Brandt se “Braaibroodjies” ’n opkikker

Muller Brandt. (Foto: verskaf)

“Musiek het nie net die mag om ernstig en diep te wees nie, dit kan óók lig, lekker en humoristies wees.”

Só sê Muller Brandt oor sy nuwe enkelsnit, “Braaibroodjies”.

Nes die titel van dié snit mag aandui, is dié liedjie ’n liplekker danstreffer wat luisteraars aan’t lag sal sit.

Muller beaam dat dit mense gaan laat lag, iets wat vir hom uiters belangrik is wanneer dit by musiek kom.

“Dit is belangrik om ’n balans tussen lig en ernstig te vind,” het Muller gesê.

“Ek, as mens en kunstenaar, kan baie ernstig oor dinge nadink. Ek kan soms te verlore in my eie gedagtes raak.”

“Braaibroodjies” het juis hierdie doel vir Muller gedien. Dit het sy ernstige denke, lirieke en musiek weer ’n ligte, humoristiese kleur geverf.

Muller vertel dat hy sy pa, ma en skoonpa in ses maande verloor het, en daarmee saam het die afgelope paar jaar hom juis in ’n meer ernstige en swaar ruimte gedompel. Sy jongste album, Brand die skepe, is in 2022 uitgereik en is ’n “reis deur twee jaar se diepste seer, maar ook gelukkigste tye.”

“’Braaibroodjies’ is een van daardie liedjies wat my gedwing het om net weer te lag en ons kultuur te geniet,” vertel hy.

‘Braaibroodjies’ was vir hom ’n vanselfsprekende tema, dit is immers iets wat so na aan die Afrikaanse kultuur lê, het Muller gesê.

Hamilton Wessels en Nykie Pretorius, nooi van die akteur, Francois Jacobs, is in “Braaibroodjies” se musiekvideo te sien.

“Dit was baie lekker om saam met hulle te werk,” vertel Muller.

Die musiekvideo verbreek ook stereotipes, meen hy, aangesien dit wys dat die lewe soms oor meer as net die uiterlike gaan.

Kyk die musiekvideo van “Braaibroodjies” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.