Musiekgroep wil mense positief oor SA maak

Die moderne multikulturele musiekgroep, Posduif, het pas hul derde enkelsnit, “Laat val die water”, vrygestel wat positiwiteit oor Suid-Afrika uitspreek, te midde van tye van negatiwiteit in die land.

James Boland, die voorsanger van die groep, het aan Maroela Media vertel dat hulle “Laat val die water” begin skryf het toe die Kaap in die middel van die droogtekrisis was.

“Soos ons oor die maande daaraan gewerk het, het daar ook ʼn klomp ander negatiewe goed in die land gebeur. Ons wou toe met hierdie liedjie vir mense wys dat daar soveel beter daar buite is en dat ons Suid-Afrika ʼn wonderlike plek kan maak as ons saamstaan,” sê Boland.

“Laat val die water” kom uit die pen van kitaarspeler Nick Jordaan en Boland, en is deur Brendan Campbell, Hugo Ludik en Vaughan Gardiner vervaardig.

Boland sê dit is vir hulle moeilik om Posduif se genre vas te vat. “As Koos Kombuis en Mango Groove ʼn kind gekry het, dan is dit Posduif,” verduidelik hy.

Die groep bestaan grotendeels uit lede van die gewilde musiekgroep Rubber Duc – Jordaan, Amiel Gopal (baskitaarspeler), Sheldon Sham (saksofoonspeler), Leeroy Sauls (dromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler), met die toevoeging van Boland as voorsanger.

Hoewel die groep nog nie lank in die bedryf is nie, het hulle ervare mense wat hulle help en Boland sê hulle is oorweldig met die goeie terugvoer wat hulle tot dusver ontvang het.

Posduif (Foto: Verskaf))

“Dit is die ongelooflikste ervaring, ons kon nooit gedink het dat die ontvangs so goed sou wees nie. Ons het selfs nominasies gekry vir die Bokkie-toekennings vir liedjie van die jaar, en groep van die jaar. Die hele ervaring is wonderlik en ons waardeer dit baie.”

Boland sê hulle hou daarvan om positiewe musiek te maak, omdat daar genoeg negatiwiteit in die wêreld is – hulle wil nie daartoe bydra nie.

“Ons is lief vir Suid-Afrika, vir die mense en vir Afrikaans. Ons wil nie deel wees van negatiwiteit of politiek nie. Ons wil mense inspireer en goed laat voel.”

Boland vertel dat vertonings vir hulle belangrik is, omdat hulle reeds by die skryfproses dink aan hoe ʼn liedjie op die verhoog gaan vertoon. Posduif streef daarna om vertonings van ʼn hoë gehalte met al ses mans op die verhoog na gehore te bring.

Posduif tree Saterdagaand by Weiveld in Pretoria op; kaartjies kan hier gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Judge Dredd ·

So wat se julle oor die aanval op Afrikaanse taal?
Of soek julle ook maar net ‘n geldtjie van die Afrikaanses?

Realis ·

Ry maar die Kommersiële Golf in Afrikaans. Maar ek kan julle 1 ding guarantee…..Afrikaners koop nie CD’s as die Sanger se hart nie regtig Afrikaans klop nie……..

wielie ·

Julle kan jul hart uitsing – die land is in n gemors ……. verander niks aan die situasie nie.

Melanie ·

Mens wil baie graag hê dat daar ‘n beter toekoms op hierdie land wag. Maar dit gaan nie gebeur nie. Sing gerus voort. Eendag sal dinge weer normaal wees maar dit is in die verre toekoms en ware Afrikaners sal seker dan wil terug immigreer om te herbou aan dié eens pragtige land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.