Musiekster om dop te hou: Gerduan Kemp

Gerduan Kemp. (Foto: Willem Botha)

Die Vrystaatse musikant, liedjieskrywer en fotograaf Gerduan Kemp werk al agt jaar in die musiekbedryf en is ʼn bekende gesig op al wat ʼn fees en funksie oor die hele land is.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Sesde sintuig”, is onlangs uitgereik. Dié liedjie volg op treffers soos “Vergewe my as ek”, “Slapelose nag” en “Dagbreekdrome”.

Die Bloemfonteinse sanger het reeds op laerskool begin kitaarlesse neem en skryf hoofsaaklik sy eie musiek. Die liedjie “Sesde sintuig” is egter uit die pen van die bekende liedjieskrywer Johan Oberholzer.

“Die liedjie vertel hoe die liefde die krag het om ʼn mens te laat vergeet van die hartseer in die verlede. In die liedjie verwys dit na hoe jou sesde sintuig, wat die liefde is, eintlik al is wat jy nodig het,” verduidelik Kemp.

“Sesde sintuig” is op talle radiostasies landwyd te hoor. “Die liefde is iets wat elke persoon iewers in hulle lewe ervaar en hierdie liedjie beskryf daardie gevoel van liefde wat ons soms sukkel om in woorde om te sit.”

Kemp het eers in sy finale jaar op universiteit, waar hy besig was om kommunikasiemedia en joernalistiek te studeer, besluit om ʼn voltydse musiekloopbaan aan te pak en het in 2012 begin sanglesse neem.

Die sanger verklap dat hy baie van musiek hou wat ʼn storie vertel en dieper betekenis het. Daarom vind hy aanklank by kunstenaars soos Niall Horan, Elandré en Daughtry en werk hy hard daaraan om te verseker dat sy eie liedjies oor dieselfde eienskappe beskik.

Hy vertel die musiekbedryf het hom geleer dat daar ʼn plekkie vir almal onder die musiekson is. “Jy kan jou drome bewaarheid as jy bereid is om jou oë toe te knyp en die eerste tree te gee.”

Gerduan Kemp op die stel van die musiekvideo vir “Sesde sintuig”. (Foto: Verskaf)

Die musiekvideo vir “Sesde sintuig” is ʼn tentoonstelling van hoe die liefde ʼn mens altyd uit ʼn donker plek in jou lewe kan red en alles ten goede kan laat verander.

“Met hierdie video beeld ek die verskil uit wat liefde in ʼn mens se lewe kan maak. Ons gebruik die kontras tussen die donker ondergrondse parkeerterrein en die kleurryke natuur om aan hierdie konsep lewe te gee,” verduidelik Kemp.

Die video is vervaardig deur Christian Wolf van BrickWolf Creatives en is geskiet in die Atterbury Value Mart se ondergrondse parkeerterrein en in ʼn groot veld met ʼn aangrensende woud in Irene.

“ʼn Mens vind dit soms moeilik om van die verlede te vergeet, maar ons wys hier dat dit met ʼn bietjie oortuiging deur die regte persoon wel moontlik is. Hierdie storielyn word vertel deur ʼn danser, Celia Beyleveldt, wat heeltyd rondom my beweeg, maar ek is glad nie bewus van haar nie. Elke keer dat sy aan my vat, is ek op ʼn ander plek.”

“Sesde sintuig” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.