Musiekster om dop te hou: Imke

Imke. (Foto: Verskaf)

Die sangeres Imke het onlangs die Afrikaanse klankgolwe getref met haar eerste enkelsnit “Oud word saam met jou”.

Dié snit is deur die bekende Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Riana Nel geskryf en kuier tans boaan gesogte treffersparades soos die Bosveld Stereo Afrikaanse Top-20.

Imke vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy het nooit beplan om ʼn Riana Nel-liedjie as haar eerste enkelsnit vry te stel nie.

“Ek het vier jaar lank met Riana se telefoonnommer rondgeloop en nooit die vrymoedigheid gehad om met haar kontak te maak nie. Toe ek uiteindelik die moed bymekaarskraap om haar raad oor die musiekbedryf te vra, het ek besef ek het haar menswees heeltemal onderskat. Nie net het sy vir my twee liedjies geskryf nie, maar my ook na musiekvervaardiger Gideon Botes gelei,” vertel sy.

Botes is bekend as kitaarspeler vir die musiekgroep Watershed en het “Oud word saam met jou” vervaardig. Volgens Imke is dit ʼn groot eer om saam met musikante van sy kaliber te werk.

“Dit voel asof ek nie beheer het oor hierdie pad wat ek nou stap nie – wonderlike dinge gebeur net,” sê sy.

Die 30-jarige blondekop is op Viljoenskroon gebore en getoë en werk tans as Afrikaanse onderwyseres vir grade 8 tot 10 aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria. Sy sê sy het vroeër vanjaar besluit om daadwerklik iets van haar sangloopbaan te probeer maak en daarom het sy uiteindelik by Nel aangeklop.

“Ek het al vele klein optredes gedoen, maar ek wil op die groot verhoog kom. Ek wil op die Innibos Kunstefees en by Afrikaans is Groot sing. Die kleiner optredes bly lekker, maak nie saak waar dit is nie, maar jy het mos maar jou drome,” sê sy.

Imke. (Foto: Verskaf)

Imke vertel sy kom uit ʼn musikale huis, waar ma Mariaan klavierlesse aangebied het en selfs pa, die voormalige Leeus-rugbyspeler Boet Wienand, elke nou en dan agter die klawers ingeskuif het. Susters Mari en Janet is self musikaal en speel albei kitaar.

“Ons het altyd gewoeker met musiek in die huis. Ná skool het ek eers menslikehulpbronnebestuur en toe onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) op Potchefstroom studeer. Musiek was nog altyd in my agterkop as iets wat ek graag as ʼn loopbaan wou aanpak, maar ek het nooit geweet hoe of waar om ʼn voet in die deur te kry nie.”

Volgens Imke is popmusiek haar grootste liefde en is sy een van die dae weer terug in die ateljee om ʼn dansliedjie getiteld “Dans tot die son opkom” op te neem. Dié snit is uit haar eie pen en Jattie de Beer, bekende liedjieskrywer en lid van die Ghoema-bekroonde groep Douvoordag, het gehelp om die liedjie af te rond.

“Die hele ding is vir my baie nuut, met of sonder Covid-19 in die prentjie,” lag sy. “Ek het soveel wonderlike mense wat my lei en aanmoedig. Ek hoop ek kan sommer ‘Dans tot die son opkom’ op ʼn massiewe verhoog gaan sing sodra die afsondering verby is!”

“Oud word saam met jou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Volg Imke op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.