Musiekster om dop te hou: Mondrey wys sy weerlose kant

(Grafika: Verskaf.)

Dit vat ’n spesiale kombinasie van talent en groot drome vir ’n kunstenaar om aandag te trek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en gelukkig het Mondrey genoeg van albei om vir hom ’n belowende toekoms te verseker.

Hierdie opkomende sanger se eerste enkelsnit met die titel “Weerloos” is pas vrygestel en het beslis genoeg potensiaal om ʼn gunsteling op talle Afrikaanse musiekspeellyste te word.

Mondrey sê “Weerloos” is vir hom ʼn besonderse spesiale lied – nie net omdat dit sy eerste uitreiking is nie, maar ook omdat dit ’n liedjie is wat hy saam met die begaafde Sky Ocean (Marli Mulder) geskryf het gedurende die afsonderingstydperk.

Hierdie popsnit, wat oorsese elektroniese dansritmes bevat, kan beskryf word as ’n liefdesverhaal met ’n kinkel. Die kinkel lê nie net in die unieke musiekstyl waarin dit verwerk is nie, maar ook in die feit dat die meisie in hierdie verhaal nie maklik gewen word nie.

“‘Weerloos’ gaan oor ’n ou wat aanlê by ’n beeldskone meisie gedurende die kuier. Hoe meer hy haar aandag soek, hoe meer skiet sy hom af, maar dit is deel van ʼn toets wat sy aan hom stel,” verduidelik hy. “Nadat hy sy gevoelens verklaar het en net voordat hy moed opgee, erken sy dat sy ook op hom verlief is.”

Die enkelsnit, wat deur Sean Butler vervaardig is, dra nie noodwendig vir die kunstenaar persoonlike betekenis nie, maar is eerder ’n poging van sy kant af om luisteraars daaraan te herinner dat almal iemand in hulle lewe het wat hulle weerloos maak.

“Ek dink mense gaan die liedjie geniet omdat oud en jonk daarby sal aanklank vind. Ons almal het al iemand gehad waarvoor ons baie lief is, maar nooit die moed gehad het om dit te sê nie en dus ook nie weet of hulle dieselfde voel nie,” sê hy. “Die snit het ’n unieke klank en ’n lekker ritme en ek kan nie wag om te hoor wat die publiek daarvan dink nie.”

Hierdie oorspronklike popsnit is ’n lekkerte vir die oor en het een van daardie wysies wat jou uitnooi om saam te sing en dans.

Die enkelsnit word verder gekomplementeer deur ’n musiekvideo. “In die musiekvideo hou ek ’n partytjie waarheen almal genooi is, insluitend die meisie waarvan ek hou. Sy daag op en ek speel hard to get om haar aandag te probeer trek en sy sleep vlerk by iemand anders om my jaloers te maak, maar ons is onbewus van mekaar se gevoelens,” verklap die sanger. “Op die ou einde gee sy op en loop weg. Ek hardloop toe agter haar aan, maar kan haar nie dadelik kry nie. Wanneer ons mekaar vind, is ons uiteindelik eerlik en raak ons verlief.”

Die video is by Bass Lake Country Lodge in Pretoria verfilm. “Ons het daar geskiet tydens sonsondergang vir die perfekte partytjieatmosfeer. Dit is ’n pragtige plek met ’n mooi uitsig oor die natuur en nie net ’n gewone huis met ’n gewone partytjiegevoel nie.”

Volgens dié veelsydige ster is hierdie afskopfase van sy loopbaan ’n groot hoogtepunt en ’n splinternuwe hoofstuk in sy lewe.

Dit beteken egter nie dat hy geen ervaring het nie. Hy studeer tans BMus aan die Universiteit van Pretoria en het groot drome om eendag sy eie platemaatskappy te besit. “Ek is ’n energieke ekstrovert met ’n passie vir musiek. Dit voel regtig asof ek gebore is om op die verhoog te wees en die beste weergawe van myself is wanneer ek mense kan vermaak,” vertel Mondrey. “Dit was van jongs af my droom om ’n sanger te wees en dit het nog nooit verander nie.”

Hy verklap dat hy al sing vandat hy drie is en ’n hele paar instrumente kan speel, waaronder die klavier, kitaar en die kwêlafluitjie, en dat hy versot op dans is.

Mondrey beskryf sy stem en styl as sterk en suiwer en hy bewonder kunstenaars soos Michael Jackson, Jan Bloukaas en Bernice West. “Michael Jackson staan letterlik vir alles in die musiekbedryf. Hy was een van die beste dansers en stemme in die musiekwêreld en dis my grootste droom om in sy voetspore te volg.”

Hierdie doelwit is ook duidelik wanneer jy hom uitvra oor sy gunstelingmusiek: “Ek hou veral van musiek uit die 80’s en 90’s en het ’n groot passie vir elektroniese dans- en Afrikaanse musiek. Plaaslik luister ek graag na Jan Bloukaas, Die Heuwels Fantasties, Synth Peter en Nicholis Louw en internasionaal na Imagine Dragons, Ed Sheeran, Kygo en Martin Garrix,” verduidelik hy.

Verder put hy inspirasie vir sy musiek uit lewensgebeurtenisse en klank wat emosie uitbeeld en meen hy dat die bedryf hom geleer het om hard te werk en net homself te wees. “Die musiekbedryf is soos ’n speletjie en as jy jou kaarte reg speel, sal jy dit maak.”

Mondrey werk tans daaraan om sy naam te vestig en aan nog musiek om uit te reik. Met die bekendstelling van “Weerloos” behoort hy kort voor lank die naam op almal se lippe te wees. Die liedjie se lekker dansritmes vang die opwinding van die liefde vas en getuig van die genot wat hy ervaar het om dit te skep. As dit enige aanduiding is van wat hy vir die toekoms beplan, gaan die pad vorentoe vir hom groot sukses inhou.

Kom geniet die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.