Musiekster om dop te hou: Pierre van Schalkwyk

Op die albumomslag pryk ʼn swart-en-wit-foto van ʼn jong man met ʼn kop vol swart krulle, sy blou oë staar dromerig in die verte in. Amper asof hy nostalgiese lugkastele bou oor daardie jare wat so vinnig verbygeglip het – sy studentejare.

Daarom heet die titel van die sanger en akteur Pierre van Schalkwyk se debuutalbum ook, heel gepas, Studentejare. Een van die hooftemas van die album spreek stormagtige liefdesverhoudings aan, van foute maak en weer begin.

Die 24-jarige sanger, wat in Secunda in Mpumalanga grootgeword het, se jongste enkelsnit getiteld “Sal ek ooit weer kan liefhê” handel juis oor een van dié liefdesteleurstellings wat hy as dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch beleef het.

“Ek wou die storie vertel van my studentejare en deel van die storie is om liefde te verloor, in watter vorm ook al. Iemand het onlangs vir my gesê die liedjie het hulle laat dink aan die dood van ʼn geliefde en hulle het gewonder of hulle weer sal kan liefhê as gevolg van die seer. Dit het bewys dat die liedjie op soveel maniere geïnterpreteer kan word deur verskillende mense.”

Hy het in ʼn huis grootgeword waar sy gesin uiteenlopende musieksmake gehad het en so is sy musiekstyl op verskillende wyses beïnvloed.

Pierre van Schalkwyk.

“My passie vir musiek is so deel van my soos my oë en my hande. Daar was baie kere in my lewe wat mense gesê het ek kan nie sing nie, of dat musiek nie my forte is nie en ek het besluit ek hou daarvan om te sing, so ek gaan die talent ontwikkel met sangklasse. Op universiteit het ek egter die musiek eers weer bietjie agterweë gelaat terwyl ek drama studeer het, maar toe dit weer optel, het ek gevoel dit is beslis iets wat ek wil aanpak.”

Van Schalkwyk het onlangs gesig gewys in die gewilde Kaapse kykNET-sepie Suidooster. Hy het die rol vertolk van Chad le Roux, ʼn internetboffin wat Michelle (Greta Pietersen) en Quinton (Leighmen Marshall) ontvoer in ʼn poging om Quinton te bevriend.

“Dit is baie interessant as jy aan hierdie kant van die kamera is met só ʼn karakter, want om hom ʼn mens te maak is tricky. Hierdie ou ontvoer kinders, maar ons het besluit om eerder die menslikheid van die karakter na vore te bring deur te wys hy is eintlik baie eensaam en weet nie hoe om te kommunikeer nie. Al kan jy nie sy dade goedkeur nie, bly hy ʼn mens,” sê Van Schalkwyk.

Sy rol in dié sepie is een van die hoogtepunte van sy loopbaan tot dusver. “Dit was ongelooflik. Regtig. Ek het die oudisie gaan aflê en ek was verskriklik senuweeagtig. Terwyl ek daar gestaan het, het ek net besluit ek gáán die rol kry.

“Die eerste dag op stel was baie senutergend, want ek het teenoor gesoute akteurs soos Gideon Lombard en Annelisa Weiland gespeel. Toe die regisseur egter ná die eerste dag skree ‘cut’ het ek gevoel dit is waar ek hoort. Dit is een van daardie goed wat net in plek geval het en ek kan nie wag om weer op ʼn stel te wees nie.”

Pierre van Schalkwyk

Tog is sy musiekloopbaan vir hom ewe belangrik. “Drama en musiek loop vir my parallel aan mekaar en word gereeld verweef. Albei die kunsvorms is so deel van my menswees en ek wil aan albei werk op dieselfde tyd en my talente en vaardighede in albei bly ontwikkel,” sê hy.

Studentejare bevat 12 snitte waarvan agt uit sy eie pen is. “Ek het probeer dink aan wat ek al beleef het en waaroor ek kan skryf, en dit is my studentejare. Vir diegene wat bevoorreg genoeg is om studentejare te kan hê, glo ek is dit een van die lekkerste tye van ʼn mens se lewe. Jy is amper ʼn volwassene en het verantwoordelikhede van studies terwyl jy steeds sorgeloos deur die lewe kan gaan. Jy lewe ten volle en dit is die storie wat ek graag wou vertel.”

Die album is sterk liriekgedrewe met ʼn mengelmoes van klanke wat blues soos die liedjie “Babelas Blues” en folk soos “Hexriviervallei” en selfs kabaret insluit.

“Elke lied moet ʼn boodskap hê en ek put my inspirasie uit die musiek van sangers soos Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en Coenie de Villiers. Die lirieke is die stroop en die musiek is die brood. Wanneer jy die bestanddele bymekaar sit, is dit ʼn smaaksensasie. My styl is stories.”

Studentejare is op alle groot aanlyn platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.