Musiekvideo: André Schwartz vier die lewe, asemhaling

André Schwartz op die stel van ‘Ek haal asem’. (Foto: Verskaf)

Schwartz se jongste enkelsnit getiteld “Ek haal asem” is onlangs uitgereik en is uit sy eie pen. Aspekte van onthou, die mens se sterflikheid en vrees vir verlies is temas wat in die lied aangeraak word.

ʼn Splinternuwe musiekvideo vir “Ek haal asem” is vandag (Sondag) bekendgestel. Die musiekvideo is geskiet en vervaardig deur Christian Wolf van Brickwolf Creatives.

Schwartz en die liedjieskrywer Loki Rothman het saam aan die liedjie gewerk. Rothman het ook die liedjie vervaardig.

Te midde van talle gesondheidstruikelblokke, asook ʼn uitdagende stryd teen Covid-19, verwoord André Schwartz sy waardering vir lewegewende asem op die mooiste manier waarop hy kan – deur sang.

André Schwartz se jongste enkelsnit, ‘Ek haal asem’, is onlangs uitgereik.

Schwartz ag dit ook as een van sy persoonlikste liedjies terwyl luisteraars wêreldwyd weens die pandemie daarby aanklank kan vind, sê hy.

“Dit is interessant hoe so ʼn diep, persoonlike ervaring ook dan so universeel is ten opsigte van Covid-19. Die inspirasie vir die liedjie het gekom nadat ek een oggend, ná weke van in en uit die hospitaal en tuis aan suurstof gekoppel wees, besef het ek haal self asem.”

Volgens Schwartz is die terugvoer wat hy oor die liedjie ontvang, net so betekenisvol soos die liedjie self.

“Die terugvoer is meer as net ‘dis ʼn mooi liedjie’. Mense sê dat dit hulle aangeraak het en dat hulle dit kon aanstuur vir iemand in hierdie tyd. Dit is so verblydend om te sien dat ʼn mens kan skryf oor asemhaling. Die liedjie dra die boodskap oor dat ons dankbaar moet wees vir genade om asem te kan haal en dit te kan waardeer.”

Schwartz sê as hy na die musiekvideo kyk, wat die universele boodskap van die belangrikheid van asemhaling te midde van ʼn pandemie uitbeeld, glimlag hy.

André Schwartz op die stel van ‘Ek haal asem’. (Foto: Verskaf)

“Die video begin met waar ek onderwater is, sonder asem. Dan breek ek deur die oppervlak en ons is dadelik in ʼn wêreld waar lug, suurstof en asem leef.”

ʼn Stellasie van 14 m hoog en 250 m lap is gebruik om die woorde “Ek haal asem” te verkondig in vyf verskillende tale: Afrikaans, Engels, Chinees, Nederlands, Sotho en Frans.

Die woorde is in Schwartz se eie handskrif geskryf en deur middel van reusepatrone op die lap geverf deur onder andere Schwartz self.

“Ek haal asem” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna-Marie ·

Dit is eers wanneer jy sukkel om asem te haal dat jy besef hoe waardevol dit is en dat al die ander dinge wat ons so maklik as belangrik beskou vervaag voor die belangrikheid van dit – iets wat ons elke dag doen sonder om dit te besef of te waardeer. ????

koos ·

Onlangs het iemand ‘n videogreep gedeel op Whatsapp. Die aanbieder vra ‘n groep mense of sommige van hulle bereid sal wees om môre nie meer wakker te word vir altyd teen ‘n miljoen Dollar elk nie. Niemand wou sou aanbod aanvaar nie, nie eens vrywilligers nie. Dus, jy kry elke dag die ekwivalent van ‘n miljoen Dollar, of so iets. Wat het jy vandag met jou daaglikse fortuin gedoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.