Musiekvideo: Armand Steenkamp sing oor vrolike vissersvrou Johanna

Armand Steenkamp skerts dat hy nooit gedink het daar sal iemand met dieselfde naam as hy in die Afrikaanse vermaakbedryf wees nie, en verwys nou skertsend na homself as “die dikke” van die Armands.

“Die maere is natuurlik Armand Hofmeyr, en daar is glads een wat nou kaal kook ook!” vertel hy laggend aan Maroela Media in sy Namakwalandse aksent.

Armand het in die Boesmanland grootgeword en woon tans op ʼn plaas net buite Springbok, waar sangers soos Richard van der Westhuizen, Gian Groen en Deon Groot ook hulle lewensjare begin het.

Volgens Armand was dit sy droom om ʼn rugbyspeler te word, maar die musiekgogga het behoorlik gebyt nadat hy sy eerste orkes, Die Haak en Steekbos Band, gestig het. Die eerste fees waarop hy gesing het, was Redelinghuys se Aartappelfees.

Daarna het talle feeste en ander konserte gevolg en toe hy weer sien, verdien hy sy brood en botter slegs met musiek, vertel hy.

“Ek is ʼn boer in murg en been, maar die afgelope dekade was dit vreeslik droog en die plaas het te klein vir my begin raak. Nou is ek al 13 jaar professioneel op die verhoog en ek kyk nie terug nie,” sê Armand.

Hy het reeds twee vollengte albums agter sy naam en het bekendheid verwerf met liedjies soos “Diep steek en lank lê”, “Ek kan nie dans nie maar ek kan vry” en “Lekker mens”.

Sy jongste enkelsnit, “Johanna van Saldanha”, het pas die lig gesien saam met ʼn prettige musiekvideo.

Die liedjie is geïnspireer deur die wyle Worsie Visser se alombekende treffer, “Gee hom gas, Johanna”. Volgens Armand is die liedjie ʼn eerbetoon aan dié wonderlike vrou wat op die Weskus van Suid-Afrika gewoon het.

“Ek het die liedjie geskryf nadat ek een oggend by ʼn vriend in sy braaikamer in Langebaan gesit en kuier het. Daar het ek aan Worsie Visser se liedjie gedink en myself afgevra wie dié Johanna was, wat almal so gas gegee het. Hoe het sy gelyk en wat het sy gedoen?”

Armand Steenkamp is mal oor vis vang. (Foto: Facebook/Armand Steenkamp)

Die liedjie is geskryf vir mense wat hou van kuier, sê Armand. “Kuier is my kos. Visvang, braai, jag en my pêlle is my groot passies in die lewe. Dit is ook waaroor ek skryf.”

Wanneer Armand nie musiek maak nie, hou hy homself op die plaas naby Springbok besig. “My vrou gee skool by die laerskool op Springbok. Dus is ek een week op die dorp saam met haar en een week op die plaas, dan is ek soos ʼn huisvrou wat die gras natlei en kosmaak.

“In die week is ek ʼn vreeslike introvert, maar naweke is ek ʼn ekstrovert. ʼn Naweek kan lank raak as jy ʼn klomp vertonings lewer, so, in die week hou ek daarvan om te herlaai en so min as moontlik te doen. Dan hou ek myself op die plaas besig met skape en gewere,” sê hy.

“Johanna van Saldanha” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Johanna van Saldanha”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.