Musiekvideo: Quentin Prinsloo se ballade-baadjie vir ou snit

Die Afrikaanse snit “Wit perd” is jare gelede reeds deur die gesoute komponis Tertius Pretorius geskryf. Die sanger Quentin Prinsloo het vir dié snit ʼn nuwe baadjie aangetrek en pas as sy jongste enkelsnit uitgereik.

Prinsloo vertel in die Maroela Media-ateljee dat hy soveel aanklank by die liedjie gevind het, dat hy dit graag wou opneem.

“Die meeste mense op die aarde soek na daardie een persoon wat as’t ware jou geliefde, jou ridder op ʼn wit perd kan wees. Die liedjie gaan oor die emosie wanneer jy voel jy soek iemand in jou lewe,” verduidelik Prinsloo die tema van die liedjie.

Die liedjie is ʼn vloeiende ballade. “Ek het vir die liedjie ʼn nuwe baadjie by die Uys Visser-ateljee in Franschhoek aangetrek. Toe ek Kaap toe verhuis het, het ek nie gedink ek gaan ʼn ateljee tussen die mooie berge vind waar ek een keer per maand vir ʼn halwe dag lank my werk kan gaan doen nie.”

Prinsloo het sy tuisdorp van Pretoria in Gauteng verruil vir Durbanville in die Wes-Kaap en vertel hy kan nie gelukkiger wees nie. Hy is tans ʼn ambassadeur vir Wild Rose-jenewer en is ook betrokke by ʼn kosmetiese maatskappy.

Quentin Prinsloo op die stel van ‘Wit perd’ se musiekvideo. (Foto: Facebook/Quentin Prinsloo)

“Ek het my liefde en my tuiste in die Kaap gevind. Met ‘Wit perd’ voel ek dat ek my stempel as kunstenaar weer afdruk nadat ek vir ʼn lang ruk stil was in die musiekbedryf.”

Hy het 20 jaar lank optredes in kroeë, by feeste en op groot verhoë oor die hele land nagejaag, maar dit het uiteindelik sy tol geëis en hy het besluit om ʼn blaaskans te neem.

“Ek het besluit ek hoef nie meer op te tree nie, maar ek kán. Met die liedjie bevestig ek aan myself dat ek gevestig is in my lewe.”

Die musiekvideo is deur die countrysangeres Cheré in Langebaan geskiet. Sy en haar suster, Monique Large, bedryf die produksiehuis Two of a Kind, wat hoofsaaklik musiekvideo’s vervaardig.

Prinsloo sê hulle het vir die video ʼn pragtige vrou agter op ʼn perd se rug gesit. “Ons het ʼn visie gehad van ʼn beeldskone engel op ʼn perd.

“Ek is baie dankbaar vir Cheree. Ek voel altyd veilig, goed en rustig as ek Langebaan toe ry en weet ek gaan saam met haar werk. Sy laat my toe om myself te wees en my emosies uit te leef.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

“Wit perd” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Wit perd”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Beatrix ·

Ongelooflik trots op Quentin! Baie geluk met hierdie nuwe enkelsnit! Quentin se stêr skitter baie mooi, hy gaan nog groter hoogtes bereik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.